2 maande gelede
Wees pro-aktief
RAMP: Hou altyd jou oog op die weervoorspelling en kyk uit vir waarskuwings.FOTO VERSKAF  ~ 

DELE van Suid-Afrika loop onlangs deur onder swaar reën­ en vloede, wat tot groot lewensverlies gelei het.

Ernstige skade is ook aan eiendom en voertuie aangerig.

Die versekeraar Auto & General sê Suid-Afrikaners moet waaksaam wees en ’n pro-aktiewe ingesteldheid handhaaf om rampe te voorkom.

Wenke

Ricardo Coetzee, Auto & General se hoof van versekering, sê: “Wat as ’n paar druppels reën begin, kan baie vinnig in ’n ernstige en lewensgevaarlike situasie ontaard.

“Suid-Afrikaners word ten sterkste aangemoedig om praktiese stappe te doen om hulleself beter te beskerm en behoorlike noodplanne gereed te hê.”

Auto & General bied die volgende wenke in noodsituasies:

  • Goeie en gereëlde instandhouding van jou huis. Gaan strukture rondom jou huis na vir swak plekke, hou die geute skoon, snoei dooie bome en takke en verseker die genoegsame dreinering van water. Al dié dinge is noodsaaklik en sal jou risiko heelwat verminder. Dis ook ’n goeie idee om sleutelstrukture te versterk, veral wanneer jy in ’n area woon wat geneig is tot swaar reën en vloede.
  • Goeie voertuig-instand­houding is baie belangrik om seker te maak jou voertuig is in ’n goeie toestand en sal jou nie in reënweer in die steek laat nie.
  • Lig die owerhede onmiddellik in as jy oplet daar is onvoldoende dreinering of ’n moontlike veiligheidsrisiko in ’n openbare area. Dit sluit in krakende strukture en paaie, grond- en rotsstortings.
  • Hou altyd jou oog op die weervoorspelling, kyk uit vir waarskuwings oor swaar reën en, indien moontlik, vermy gevaargebiede, soos paaie waar dreinering swak is.
  • Maak seker jy save alle noodnommers, insluitend dié van jou versekeraar, op jou foon of memorise dit. Maak seker jou hele gesin is deeglik bewus van wat om in ’n noodgeval te doen en wie om te skakel.

Swaar reën:

  • Maak seker al jou buitemeubels en bybehore is veilig weggebêre of deeglik vasgemaak. Sorg dat alle hekke en deure wat gesluit moet wees, wel gesluit is.
  • Swaar reën gaan baie keer met weerlig gepaard. Die krag van ’n enkele weerligstraal kan maklik die meeste toestelle en apparate oorlaai. Dis verstandig om al die toestelle uit te plug voordat ’n storm tref.
  • Waar moontlik is dit slim om jou kar onder dak te parkeer en jou reisplanne uit te stel totdat die storm verby is.
  • Indien jy in ’n swaar storm vasgevang is en dink dit is nie veilig om te bestuur nie, trek van die pad af en soek skuiling.

Dit kan by ’n onderdak-parkeerarea, ’n vulstasie of ’n brug wees. Moenie jou eie of ander mense se veiligheid in gevaar stel nie en skakel jou noodflikkerligte aan en beweeg stadig na ’n veilige plek.

Bly in jou voertuig en verlaat slegs die area wanneer die storm verby is.

Moenie onder bome parkeer nie omdat daar ’n gevaar van vallende takke en afbreeksels is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters