7 maande gelede
Wat om te doen ná iemand sterf
lykhuis: Wanneer iemand sterf, is daar eers ’n paar dinge wat gedoen moet word.Foto: netwerk24  ~ 

WANNEER iemand sterf, moet ’n begrafnis gereël word.

Hier is ’n praktiese gids oor wat jy moet weet en doen.

Dit sal ’n baie moei­like tyd wees, maar daar is sekere dinge wat jy sal moet doen direk nadat die persoon oorlede is.

Hierdie punte sal jou help om die wetlike en finansiële sy van dié hartseer-tyd te hanteer.

Die eerste ding wat jy moet doen, is om ’n mediese sertifikaat te bekom.

Die BI-1663-sertifikaat is ’n kennisgewing van afsterwe, maar is nie die doodsertifikaat nie.

  • As iemand in ’n hospitaal aan natuurlike oorsake sterf, sal die dokter die kennis van afsterwe uitreik.

Sommige hospitale het nie hulle eie lykshuis nie. In daardie geval moet ’n begrafnisondernemer dadelik gekontak word om die lyk te verwyder.

  • As iemand in ’n hospitaal aan onnatuur­like oorsake sterf, sal die lyk spoedig oorgeplaas word na ’n staatslykhuis, waar ’n lykskouing gedoen sal word.
  • As dit by die huis aan natuurlike oorsake gebeur, bel dadelik die dokter.

Enige dokter kan ’n kennis van afsterwe uitreik, solank hy seker is wat die oorsaak van die dood is.

Indien die dokter onseker is, kan ’n begrafnisondernemer ’n private lykskouing reël.

  • As iemand by die huis aan onnatuurlike oorsake sterf, bel dadelik die polisie.

Hulle sal reël dat die lyk na ’n lykshuis verwyder word, wat die kennisgewing van dood sal uitreik.

In ál bogenoemde gevalle moet die lyk eers deur ’n familielid of vriend uitgeken word voordat die kennisgewing uitgereik mag word. – voelgoed.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters