28 dae gelede
Volg kids se fases
Learning to calculate, high five success.
Dis belangrik om jou kind se vordering dop te hou.  ~ Foto ter Illustrasie

DIS baie belangrik vir ouers om te weet wat hulle kleingoed op watter ouderdom veronderstel is om te kan doen.

Die webwerf jougesin. solidariteit.co.za berig vir jou kinders om verskeie ontwikkelingsmylpale te bereik voordat hulle skool toe gaan, is een van die belangrikste kollektiewe doelwitte van jou lewe sowel as hulle s’n.

Volgens dr. Meg Meeker, ’n pediater in Traverse City, Michigan, leer voorskoolse kinders baie nuwe vaardighede en verbreed hulle kognitiewe vermoëns.

Hoewel nie naastenby volledig nie, volg hier kortliks sommige faktore waarvoor jy op die uitkyk moet wees in jou kind se ontwikkeling.

Ouderdom: twee

’n Tweejarige kind behoort in staat te wees om ander na te aap (veral volwassenes en ouer kinders), meer onafhanklikheid en opstandige gedrag te openbaar, na prente en dinge te wys wanneer dit benoem word.

Hulle behoort name van bekende persone en liggaamsdele te ken en sinne van twee tot vier woorde te kan praat, asook eenvoudige instruksies te kan volg, na dinge in ’n boek te kan wys, vorms en kleure begin sorteer, op hulle tone te kan staan, ’n bal te skop en dit oorhands te gooi en te hardloop.

Ouderdom: drie

Meeker sê: “Op drie behoort hy of sy oor die fyn motoriese vaardighede te beskik om self aan te trek en die groot motoriese vaardighede om ’n driewiel te trap.

Kinders behoort geneentheid teenoor maatjies te toon sonder om voorgesê te word, beurte te neem in speletjies en ’n wye reeks emosies te toon.

Hulle behoort ook goed te kan klim en hardloop en met trappe op en af te kan loop met een voet op elke trap.

Ouderdom: vier

Die meeste kinders in dié stadium van hulle ontwikkeling hou daarvan om aan nuwe aktiwiteite deel te neem.

“Op vier behoort ’n kind in staat te wees om hom of haar aan en uit te trek, basiese figure uit papier te sny en hulle op ’n ander stuk papier te plak, stokkiesfigure te teken, vier of vyf kleure te benoem, jou grappe te verstaan en met jou grappe te maak,” sê sy.

Hulle vertel stories, kan hulle naam en van sê, verstaan die begrip van tel, begin tyd verstaan, en teken mense met twee tot vier liggaamsdele.

Ouderdom: vyf

Op dié ouderdom, sê Meeker, behoort kinders te kan tel en ’n mens te kan teken met arms, bene en lyf op die regte plek.

Hulle openbaar verbeelding- en “kamma-kamma”-spel (soms met ’n opgemaakte maatjie), kan ’n tweewielfiets met oefenwiele ry en goed genoeg artikuleer om verstaan te word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters