2 maande gelede
Vergewis jou van dié regte
INGELIG: Jy het die reg om dienste en produkte van hoë gehalte te ontvang.  ~ istockphoto

SUID-AFRIKA kan slegs ware ekonomiese groei beleef wanneer jy as verbruiker vertroue in jou verkose produk- of diensverskaffer het.

Jy het die reg om dienste en produkte van hoë gehalte te ontvang.

Moenie omgepraat word om jou swaarverdiende geld in die water te gooi nie. Kliënte moet altyd beskerm en waardeer word.

Aansoek

Sondag 15 Maart is Internasionale Verbruikersregtedag. DebtSafe­ beskou dit as ’n hoë prioriteit om verbruikers bewus te maak van ? paar nuttige en waardevolle verbruikersregte.

Volgens die Nasionale Kredietreguleerder het verbruikers regte kragtens die Nasionale Kredietwet om:

  • aansoek te doen om krediet;
  • te weet hoekom krediet afgekeur is;
  • inligting en dokumentasie te ontvang in die taal van jou keuse;
  • inligting en dokumentasie te ontvang in eenvoudige en duidelike taal;
  • dokumentasie te ontvang in jou verkose “aflewering/ontvang”- opsie;
  • state te ontvang sonder enige koste daaraan verbonde;
  • een keer per jaar ’n gratis kredietverslag te ontvang of aan te vra by ’n geregistreerde kredietburo; jy het ook die reg om verkeerde inligting te bevraagteken of ’n dispuut aan te gaan (indien dit met bewyse gestaaf kan word);
  • aan te dring daarop dat jou privaatheid gerespekteer word; en

aansoek te doen om skuldhersiening/-bestuur/-berading.

Carla Oberholzer, ’n skuldberader by Debt­Safe, beklemtoon dat dit belangrik is om jou tuiswerk vooraf te doen wanneer jy om krediet aansoek doen.

Só sal jy die beste beskikbare bepalings en tariewe kry wat in jou begroting sal pas.

Oberholzer sê verbruikers móét ’n kwotasie ontvang nog voordat enige kredietooreenkoms aanvaar word.

Die kwotasie moet die fooie en paaiemente duidelik uiteensit.

Hier is ’n paar voorbeelde/scenario’s waarvan verbruikers bewus moet wees wanneer hulle om sekere krediet aansoek doen:

  • Wanneer jy ’n voertuig wil koop

Mev. X wil ’n motor koop en het aansoek gedoen om krediet. Ongelukkig is haar aansoek daarvoor afgekeur. Sy het die reg om navraag te doen waarom haar aansoek nie aanvaar is nie. Die kredietverskaffer stel haar in kennis dat sy ’n swak kredietprofiel het.

Sy stem nie saam met die terugvoer wat sy ontvang het nie, want sy weet sy is wel in ’n posisie om finansiering vir ’n motor te kry.

Mev. X het die reg om ’n dispuut aan te teken by die kredietburo (met haar bewyse, natuurlik) en binne 20 dae ontvang sy terugvoer dat die fout op haar profiel reggemaak is. Sy kan nou heraansoek doen om die finansiering wat sy benodig.

  • Aansoek om ’n persoonlike lening

Mnr. Y het die reg om ’n kwotasie aan te vra wanneer hy aansoek doen om ’n persoonlike lening. Die kredietverskaffer moet alle fooie, paaiemente en noodsaaklike bepalings uitwys.

Premie

Mnr. Y moet dus ook die kredietooreenkoms (gratis) aanvra om te sien wat die kredietlewensversekering se paaiement, byvoorbeeld, behels.

Hy het die reg om te weet wat die kredietlewensversekering se premie is en kan besluit om eerder sy eie kredietlewensversekeringsverskaffer te kies.

Internasionale Verbruikersregtedag herinner jou daaraan om jou regte as verbruiker te ken.

Vergewis jou van die Kredietwet, die Kredietwysigingswet en ander kredietregulasies. Deur jou regte as verbruiker te ken, kan jy jou skuld doeltreffend bestuur.

DebtSafe is ten gunste van die idee agter Internasionale Verbruikersregtedag en moedig oorverskuldigde verbruikers aan om die beste hulp van hulle bekwame raadgewers te verkry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters