27 dae gelede
Vergelyk al daai produkte soos ’n boss
surf rond: Soek op verskillende webwerwe waar versekeringsprodukte aangebied en vergelyk word. FOTO VERSKAF  ~ 

AS JY huisversekering het, maar jy voel jy betaal te veel of jy is ontevrede oor jou voordele, het geselsversekering.co.za raad.

Mededinging in die bedryf maak dit ál belangriker vir kliënte om hul tuiswerk te doen voordat hulle ’n versekeraar kies.

Baie direkte versekeraars het ook sedert die ontstaan van die internet tot die mark toegetree en elkeen probeer iets unieks vind wat hom onderskei.

Ongelukkig maak juis dié uniekheid dit ook moeiliker vir die kliënt om die koring van die kaf te skei.

’n Mens kan nie net pryse vergelyk nie. Neem die aanbod én “ekstras” in ag.

  • Kyk op verskeie sites.

Daar is talle webwerwe wat versekeringsprodukte vergelyk. Party word beskryf as sites vir prysvergelyking, oftewel sogenaamde “aggregators”. Dit is raadsaam om nie net op een webtuiste se resultate te steun nie. Gebruik liewer meer as een bron. Die noodsaaklikheid om meer platforms te gebruik, geld ook vir besprekingsforums waar komplimente en kritiek oor versekeraars verskaf word.

  • Maak dubbeld seker van enige inligting.

Maak altyd seker jy verskaf dieselfde inligting vir vergelykings. As jy verskillende inligting verskaf, gaan jou resultaat verskil.

  • Stoor jou inligting.

Teken aan presies watter inligting jy verskaf en die resultate wat aan jou gegee word. Dit sal jou help wanneer jy hierdie inligting later nodig het of weer daarna wil verwys. Onthou ook dat direkte versekeraars die telefoongesprek móét opneem!

Daar was onlangs ’n geval waar ’n kliënt meegedeel is dat haar motorversekeringspremie vir die volgende jaar met ’n persentasie gaan verhoog. Sy is egter by die uitneem van die polis verseker die premie is vir drie jaar gewaarborg. Sy het dit aangeteken en kon terugverwys na die opgeneemde telefoongesprek.

  • Vergelyk nuwe aanbiedings eers met jou bestaande versekering.

As ’n laer premie soos ’n wortel voor jou neus hang, is dit raadsaam om eers jou huidige versekeraar te kontak. Deel jou huidige versekeraar mee van die premie wat jou aangebied is en vind uit of hy dit kan match of selfs verbeter.

  • Onthou die speelveld is nie vir elke versekeraar dieselfde nie.

Die premies op ’n vergelykende webwerf is gewoonlik nie die enigste beskikbare aanbiedings nie.

Verder besluit party versekeraars om nie op sulke vergelykende webwerwe te kwoteer nie. Jy sal hulle dus direk moet nader en vergelyk met die aanbiedings wat jy op die vergelykende webwerwe gekry het.

  • Hou jou oog op die pers vir nuwe produkte.

Dit is belangrik om die vergelyking van versekering nie as ’n eenmalige transaksie te beskou nie.

Daar is gereeld ontwikkeling in die bedryf en selfs sogenaamde “nuwegenerasieprodukte”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters