29 dae gelede
Tax-reëls verander heelwat
Gemaklik: Belastingbetalers wat minder as R500 000 per jaar verdien, hoef nie meer opgawes in te dien nie.Foto’s: iStockphotos  ~ 

JIP, ons is in daai tyd waarvoor niemand eintlik lus het nie – belastingtyd.

Dis ongelukkig een van daai dinge wat gedoen móét word.

Die belastingseisoen het op 1 Augustus vir alle belastingbetalers geopen.

Na aanleiding hiervan het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voor die aanvang van die 2019-belastingseisoen verskeie veranderings aangekondig.

Die webwerf finansies.solidariteit.co.zaberig die grootste verandering is dat belastingbetalers wat minder as R500 000 per jaar verdien nie meer opgawes hoef in te dien nie.

Dié drempel is aansienlik hoër as die vorige een van R350 000.

Finansies.solidariteit.co.za berig die SAID het verduidelik belastingbetalers wat aan die volgende kriteria voldoen, hoef nie opgawes in te dien nie.

  • Hulle totale jaarlikse inkomste uit werk voor belasting is hoogstens R500 000.
  • Hulle verdien hulle totale inkomste uit werk vir die volle belastingjaar by net een werkgewer.
  • Hulle het geen ander bron van inkomste nie, byvoorbeeld ’n motortoelaag of inkomste uit besigheid, huur, belasbare rente of ’n ander werk.
  • Hulle eis geen ander toelaatbare belastingverwante aftrekkings nie, soos mediese uitgawes, bydraes tot ’n aftreeannuïteit of reisuitgawes.

“Dit is ’n groot toename,” sê prof. Herman Viviers van die Noordwes-Universiteit (NWU) aan finansies.solidariteit.co.za.

“Mense moet baie versigtig wees om nie sommer net na te laat om hulle belastingopgawes in te dien nie.

“Dis omdat daar altyd die moontlikheid is van ’n belastingterugbetaling as gevolg van bykomende belastingaftrekkings en/of belastingkrediet wat net by assessering toegestaan word.

Verwerking

“Die hoofrede waarom die SAID die drempel opgeskuif het, is om hulle administratiewe las met die verwerking van die belastingopgawes van die laerinkomstegroep te verlig.

“Hoe minder opgawes ingedien word, hoe minder administratiewe werk vir hulle.

“Dit het ook dieselfde administratiewe voordele vir die belastingbetaler. Maar, soos ek sê, mense moet versigtig wees.”

Mense wat onseker is, moet ’n geregistreerde belastingpraktisyn raadpleeg omdat die nie-indiening van opgawes kan uitloop op boetes ingevolge die Wet op Belastingadministrasie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters