16 dae gelede
Swipe-swipe ál armer
te maklik: Die risiko’s van kaarte lê in hulle gerieflikheid.Foto: istock/getty images  ~ 

MENSE loop nie meer met kontant rond nie.

Dis grootliks omdat jy so maklik beroof kan word, maar ook omdat dit deesdae so gerieflik is om ’n winkel-, krediet- of puntekaart te swipe.

Baie Suid-Afrikaners bevind hulle tans in die sogenaamde “swipe-kultuur” – en dis skadelik.

Suid-Afrikaanse verbruikers wat hulle kaarte lustig swipe, het ál meer gate wat hulle moet toestop met ál minder geld.

Só sê Carla Oberholzer, ’n skuldberader van DebtSafe.

Oberholzer sê: “Hulle kan nie ophou met dié onbesonne swipe-kultuur nie.”

Dié gewoonte kan hulle of hulle geliefdes se gesondheid en finansiële welvaart erg benadeel.

Volgens 46% van die meer as 1 000 respondente wat DebtSafe se Finansiële Realiteit 2019-vraelys ingevul het, was hulle agterstallig met sekere terugbetalings.

Tipies was die agterstallige ooreenkomste winkel­krediet (44%) en kredietkaarte of oortrokke fasiliteite (30%).

Rede

Luidens Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor-peiling vir 2019 gebruik 29% mense hoofsaaklik ’n kredietkaart vir alledaagse uitgawes (kos, vervoer, ens.).

Die basiese rede waarom 67% van verbruikers ’n winkelkaart gebruik, is om items dadelik te kan koop.

Dis omdat daar nie kontant daarvoor is nie, dan probeer hulle dit stuk-stuk afbetaal. Dis vir seker die verkeerde ding.

Afgesien van die finansiële skade wat verbruikers se skuld en swipe-gewoontes aanrig, kan dit hulle gesondheid ernstige skade berokken – nie net fisiek nie, maar ook geestelik.

’n Verbysterende 56% van respondente het in die opname aangedui dat finansiële spanning hulle algehele stresvlakke lig.

Voordat verbruikers hulle in ernstige skuldsituasies bevind of die mal swipe-kultuur volg, moet hulle eerder die volgende vyf voorstelle in gedagte hou:

  • Gebruik krediet net wanneer dit absoluut noodsaaklik is.
  • Moenie krediet gebruik vir basiese noodsaaklikhede soos brandstof en kruideniersware nie. Krediet moet net daar wees vir noodgevalle.
  • Stel ’n maandelikse begroting op om seker te maak jy weet wat jou algehele finansiële prentjie is. Dus, van jou netto-inkomste trek jy beleggings, spaargeld en uitgawes af, en wat jy dan oor het, is óf geld oor vir die res van die maand óf nie.
  • Uitgawes is nie veronderstel om jou inkomste te oorskry nie.
  • Herstel jou skuldsituasie deur een van Debt­Safe se bekwame skuldberaders te kontak by info@­debtsafe.co.za of SMS jou naam na 30898 (gratis).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters