Verlede maand
Studente en hul sente
DINK OOR GELD: Studente moet ook begrotings opstel wat elke denkbare uitgawe dek.  ~ iStock

’N PAAR jaar gelede­ was ek ’n arm student. Nou is ek nie meer ’n student nie – net arm.

Maar jy hoef nie te sukkel soos ek gesukkel het en leef van NikNaks en nartjies nie.

Ek het vir Sonland se studente ’n paar wenke gaan soek op die webwerf finansies.solidariteit.co.za om daai reeds tight begroting te help klop.

Hierdie een is veral vir die eerstejaars met die sterre in die oë wat met groot opgewondenheid uitsien na die eerste studiejaar en veral die onafhanklikheid wat daarmee gepaard gaan. Jy kan doen wat jy wil en wanneer jy wil, want jy is mos nie meer onder jou ouers se wakende oë nie. Maar totdat jy ’n salaris begin verdien, sal jy nooit heeltemal onafhanklik wees nie, tensy jy ’n studiebeurs het wat ál jou uitgawes dek – jou studiegeld, boeke, verblyf en sakgeld.

Deesdae moet studente hulle sente omdraai!

  • Stel ’n begroting op wat elke denkbare uitgawe dek – selfs tips, bankkoste en travel-geld. Maak ook voorsiening vir onvoorsiene uitgawes.
  • Verblyf kan jou baie uit die sak jaag. As jy aan ’n universiteit of ander opleidingsinstansie in jou tuisdorp studeer, oorweeg dit om steeds by jou ouers te woon. Dis gewoonlik die heel goedkoopste. Andersins, huur ’n kamer in ’n kommune of deel ’n woonstel met ’n goeie vriend(in).
  • Benut jou studentekaart vir studente-afslag wat sommige besighede bied. Soms gee winkels op sekere dae afslag. The Fix gee byvoorbeeld Donderdae 20% afslag op items.
  • Om dinge tweedehands te koop is nie ’n skande nie. Indien moontlik, koop jou handboeke tweedehands. Kyk ook aanlyn vir tweedehandse meubels.
  • Draai elke sent om. Dis onnodig om die duurste handelsmerke te koop. Jy is nie Keeping up with the Kardashians nie. Hou jou oë oop vir spesiale aanbiedings. Spaar letterlik elke sent wat jy kan – gooi al jou muntstukke in ’n bottel en jy sal verstom wees oor hoeveel jy teen die einde van die jaar gespaar het.
  • Moenie met jou (welvarender) studentemaats probeer meeding nie. Niks maak jou so arm soos om ryk te wil lyk nie. Onderdruk jou begeertes vir mooier, groter, beter en duurder totdat jy eendag ’n salaris verdien.
  • Maak self kos pleks daarvan om te gaan uiteet of take­aways te koop. Dis moeite om self kos te maak, veral as jy vir ’n toets moet leer. Maar met ’n bietjie beplanning kan jy heerlike, veelsydige en voedsame geregte in groot maat berei. Deel dit in kleiner porsies en vries dit. Dan kan jy ’n paar keer lekker eet vir net een keer se moeite. As jy teen middagete op kampus gaan wees, vat ’n toebroodjie saam. Jy kan iets in die kafeteria ook eet. Maar jy gaan báie spaar as jou tenk klaar halfvol is.
  • Almal kry af en toe lus vir uiteet of wegneemkos. Bly op die hoogte van spesiale aanbiedinge by eetplekke.

Tutor

  • ’n Deeltydse werk bied altyd ’n welkome bykomende inkomste vir ’n platsak student. Maak net seker dat jy nie klastyd of studietyd vir toetse sal moet prysgee om te werk nie. Jy kan as kelner werk, ’n baba-oppasdiens begin of jou dienste as tutor aanbied.
  • Wees realisties en gewillig om opofferings te maak. Dit geld vir álles in jou studente­jare. Wees altyd bewus van wat jy kan bekostig en wat nie. Niemand wil aan die einde van sy of haar studentejare met ’n klomp skuld opgesaal wees nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters