Verlede maand
Stres laat Evas erg ly
mediese hulp: Dis ’n goeie idee om met jou dokter te praat.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

VANDAG se “doen-als-vrouegenerasie” se gesondheid ly onder al die druk.

Vroue tussen 35 en 54 jaar ervaar heelwat hoër stresvlakke as mans, lui die jongste statistieke van die Britse regeringsagentskap Health and Safety Executive (HSE).

Dié vroue vertolk waarskynlik verskillende rolle, insluitend dié van broodwinner, ma, versorger van bejaarde ouers en tuisteskepper.

Volgens die American Psychological Association verskil mans en vroue se reaksie op stres ook – fisiek en geestelik.

Hulle bestuur hulle stres ook anders. Vroue sal gouer erken dat hulle stresvlakke besig is om op te gaan.

Meer as die helfte van die vroue wat aan ’n opname deur hierdie vereniging deelgeneem het, sê hulle stresvlakke het die afgelope vyf jaar gestyg.

Vroue is meer geneig om te erken geld en die ekonomie is vir hulle bronne van kommer. Hulle is ook meer geneig tot sekere fisieke en emosionele simptome.

Sommige sal makliker huil, hoofpyn kry of ’n omgekrapte maag hê. Krampe, swelling, inflammasie en ’n gebrek aan eetlus kan ook volg.

Prof. Jose Ramos van die Donald Gordon Mediese Sentrum by Wits, sê stres kan veroorsaak dat jou senu- en spysverteringstelsel aangetas word. Die slukderm kan spasmas kry wat maagsuur kan vermeerder en lei tot slegte spysvertering.

Toonbank

Dan kan jy naar voel, diarree kry of hardlywigheid ervaar. Dit kan selfs lei tot maagsere.

Talle vroue koop dan oor die toonbank medikasie of raadpleeg dr. Google.

Ramos sê dit kan ernstige gevolge hê. Hy stel voor jy praat met ’n dokter of apteker as jy bekommerd is oor jou gesondheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters