Verlede maand
Soveel mites oor oefening
g’n bonkig nie: Nou, só kan jy lyk nadat jy ’n ruk lank met gewigte geoefen het – én dit nie oordoen het nie.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIS amper somer en tyd om jou sogenaamde summer body af te show.

En as jy nog nie gereed is vir somer nie, het ons net die inligting wat jy nodig sal hê om jou daar te kry.

Want ons het nageslaan wat die slimmes van goeie- huishouding.co.za sê oor die mites van lyfsake.

Die skaal lieg nie.

Die skaal is ’n wonderlike toestel waarmee ’n mens jou gewigswisselings op die lang duur kan monitor, maar dis beslis nie altyd betroubaar nie. Onthou, wanneer jy jou weeg, sluit die lesing alles in – selfs kos en water in jou maag.

Drink agt glase water per dag om gewig te verloor.

Volgens ’n studie aan die Harvard-universiteit verloor die gemiddelde volwassene die ekwivalent van ongeveer vier tot ses glase water per dag. Om agt glase water te drink, maak dus glad nie sin nie. So, moenie jou kop oor agt glase water breek nie; drink water eerder wanneer jy dors is.

Om met gewigte te oefen sal jou uiteindelik ’n bonkige voorkoms bied.

Inteendeel, solank jy die regte tegnieke toepas, behoort jy uiteindelik eerder ’n leniger figuur te hê. Begin rustig met ’n gewig wat jy kan hanteer, en maak dit swaarder wanneer dit te lig raak vir jou.

’n Proteïenskommel is ’n plaasvervanger vir ’n ete.

Sedert sap- en smoothie-winkeltjies opgeskiet het, drink ál meer gesondheidsbewustes proteïenskommels. Ongelukkig dien dit vir baie as ’n plaasvervanger vir ’n ete. Proteïenskommels behoort eerder as ’n versnapering te dien om ’n gebalanseerde dieet aan te vul.

Eet minder om gewig te verloor.

Die waarheid is dat ’n mens eintlik gewig verloor wanneer jy die kilojoule (kJ) wat jy inneem, beperk. As jy straf oefen, vereis jou liggaam aanvullende voedingstowwe. Fokus eerder daarop om heilsame kosse te eet en be­newens water natuurlike vloeistowwe te drink. Dit sal jou metabolisme ’n hupstoot bied.

Teiken spesifieke dele van die liggaam om gewig te verloor.

Daar is nie ’n definitiewe manier waarop ’n mens ’n spesifieke deel van die liggaam kan teiken vir gewigsverlies nie. Oefening gemik op enige spesifieke deel van die liggaam verminder nie noodwendig vetneerslag nie, maar ontwikkel beslis die spiere, en dít stimuleer die verbranding van vetweefsel.

Vermy enige koolhi­drate.

Sê wie? Koolhidrate is ’n wonderlike bron van brandstof, veral wanneer jy gereeld oefen. As jy jou inname van koolhidrate te veel beperk, kan dit jou prestasievermoë affekteer en sal jou immuunstelsel daaronder ly.

Kardio-oefeninge laat ’n mens die meeste gewig afskud.

Die meeste gymgangers wend hulle tot die trapmeul wanneer hulle probeer gewig verloor. Hoewel dit die gouste manier is waarop ’n mens dinge uitsweet, is hoë-intensiteit-kragoefeninge op die lange duur beter vir gewigsverlies.

Strek altyd voor ’n oefensessie om beserings te voorkom.

Hoewel dit belangrik is om op te warm voordat ’n mens oefen, is dit onnodig om spesifieke spiere met lang, intense strekke te teiken. Trouens, navorsing het getoon dat dit jou bewegings­omvang kan inperk, jou spiere kan destabiliseer en dus tot ’n minder produktiewe oefensessie kan lei.

Word fiks deur elke dag gym toe te gaan.

Om te gym kan wondere vir ’n mens se gesondheid verrig, maar jou doen en late wanneer jy klaar gegym het, is net so belangrik. Om te rus is ’n fundamentele deel van jou gesondheid, en as jy jouself nie genoeg tyd gun om van oefening te herstel nie, doen jy meer kwaad as goed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters