2 maande gelede
Skuldlas: Jy het opsies
wees eerlik: Moenie beloftes aan skuldeisers maak wat jy nie kan nakom nie.foto’S verskaf  ~ 

HOE gemaak as jou foon aanhoudend lui soos die skuld­eisers hulle tjieng soek?

Die kenners by finansies. solidariteit.co.za meen jy moet jou foon antwoord as jy iemand geld skuld en moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.

Hulle beveel aan dat jy skuldberading oorweeg as daar aan die einde van die maand nie genoeg geld is om al jou verpligtinge en gewone uitgawes na te kom nie.

Skuldberading bied ’n goeie oplossing vir oorverskuldigde verbruikers deur ’n effektiewe hersieningsplan.

Die proses strek vanaf die aansoekproses tot by die uitreiking van ’n vrystellingsertifikaat.

Finansies.solidariteit.co. za berig DebtSafe het besluit om ’n paar van hulle skuldvrye kliënte uit te vra oor die ervaring wat hulle gehad het met die skuldhersieningsproses.

Met behulp van hierdie terugvoer werp ’n skuldbestuurkenner, Wikus Olivier, lig op wat skuldberaders doen en wat skuldberading behels.

) elke skuldberader is uniek

Volgens Olivier maak elke skuldberader gebruik van sy eie stel prosedures, waardes en uitkyk wanneer dit kom by die hulpverlening aan verbruikers.

Olivier sê hoewel die skuldberadingsproses grotendeels deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) gereguleer word, is elke skuldberadingsfirma uniek.

Hulle kernwaardes, stelsels en benadering tot die oplos van kliente se probleme wat elke firma unieke eienskappe gee.

Kies ’n skuldberader wat by jou eie kernwaardes pas én met wie jy kan identifiseer as individu.

’n Goeie verstandhouding is baie belangrik, want jy sal ’n paar jaar lank met ’n skuldberader moet kommunikeer en werk. Jou keuse is dus baie belangrik.

) Jy kan baie leer uit ’n skuldhersieningsproses

Olivier verseker verbruikers dat daar baie te leer is in ’n skuldhersieningsproses, soos byvoorbeeld hoe om jou finansies te bestuur.

Skuldberading kan ’n drastiese effek op verbruikers hê.

Hulle moet byvoorbeeld skielik met ’n begroting werk.

Die finansiële kennis wat in skuldberading verkry word, is egter van onskatbare waarde.

) Jy kan weer aansoek doen vir krediet

Kredietaansoeke kan nie geweier word weens jou skuldhersieningsagtergrond nie.

’n Skuldvrystellingsertifikaat wat deur skuldeisers en kredietburo’s verwerk is, word uitgereik.

Dan kan jy aansoek doen vir huislenings, voertuigfinansiering en ander soort krediet, sê Olivier.

Baie verbruikers wat deur die skuldhersieningsproses gegaan het, doen suksesvol aansoek vir krediet.

As ’n kredietverskaffer iemand toegang tot krediet weier, het die verbruiker die reg op ’n volledige verduideliking waarom die krediet afgekeur word. Daarna kan gepaste maatreëls of prosedures gevolg word.

) Kan jy jou bates verloor?

As gevolg van die Nasionale Kredietwet se bepalings beskerm skuldhersiening jou bates, verduidelik Olivier.

Die skuldhersieningsproses is spesifiek ontwerp sodat verbruikers hulle skuld kan terugbetaal, insluitend huislenings en voertuigfinansiering, sonder om hulle bates te verloor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters