29 dae gelede
Skud maagvet af
Somer: Dehidrasie maak dat jou liggaam water opgaar. Dit kan daartoe lei dat jy tot twee oortollige kilogram om jou middel saamdra. Foto: footage. framepool.com  ~ 

EK DINK ons almal droom nou al van ’n “hot girl summer”.

Wel, ék doen in elk geval. So, ek het ’n paar wenke gaan soek op die webwerf goeiehuishouding.co.za oor hoe om gou ontslae te raak van daai maagvet.

Verbeter jou postuur

Jou figuur sal sommer dadelik beter lyk as jy regop staan. As jy nodig het om jouself daaraan te herinner om regop te staan, kan ’n paar strategies geplaaste notas die ding doen.

Drink meer

Sorg dat jy genoeg vloeistof inkry. Dehidrasie veroorsaak dat jou liggaam water opgaar en dit kan daartoe lei dat jy tot twee oortollige kilogram om jou middel saamdra. Kyk of jy by minstens ag glase water of ander vloeistowwe per dag kan uitkom.

Trek ’n pakkie neute nader

Navorsing het geïdentifiseer dat daar ’n verband tussen neute as peuselhappie en ’n kleiner middelomtrek is. Neute is ryk aan mono-onversadigde vette, wat beteken dat dit vullender as pretzels is.

Moenie jou ontbyt afskeep nie

’n Bietjie laevetmelk oor jou graankos kan wondere vir jou middel verrig. Daar is ’n verband tussen diëte wat ryk aan kalsiumbevattende kosse is en ’n gesonder liggaamsgewig. Verder kan die minerale in suiwelprodukte – kalsium, kalium en magnesium – help om natriumgeïnduseerde opgeblasenheid teë te werk.

Eet met aandag

Pleks daarvan om jou maaltye af te sluk, kan jy ’n punt daarvan maak om elke happie minstens tien maal te kou voordat jy sluk. Wanneer jy vinnig eet, is jy geneig om lug te sluk, wat jou risiko verhoog om ’n boepmaag te ontwikkel.

Maak tyd vir stap

Indien moontlik, gaan stap elke dag 30 minute. Dié eenvoudige metabolisme-opwekker sal help om die vet om jou middellyf vinniger te verbrand. En as jy wil oefen, stel ons voor jy vergeet maar toestelle wat “ferm maagspiere binne minute” beloof.

Ontspan ’n slag

Wanneer jy oorspanne is, verhoog jou liggaam sy produksie van steroïede en streshormone, wat ’n negatiewe uitwerking op jou spysverteringstelsel het en erge hardlywigheid veroorsaak. Asof dít nie genoeg is om jou swanger te laat voel nie, verhoog stres ook die produksie van kortisol, die “vlug of veg”-hormoon, wat oortollige vet onmiddellik om jou middel laat saampak in ’n poging om jou lewensorgane te beskerm.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters