3 maande gelede
Sit jou beste voetjie voor
week: Sit jou voete in water om jou hakke te versag sodat jy dit makliker kan behandel.foto’s verskaf  ~ 

DAMES, die winter is op ons en teen dié tyd sal jy dalk voel hoe jou arme voetjies droog en half gebars is.

Ons voete werk baie hard en kry ons daagliks van punt A na punt B, maar baie van ons versorg nie ons voete behoorlik nie en sit gevolglik met seer en gebarste hakke.

Dit word gewoonlik ver­erger deur die seisoenverandering of wanneer jy kaalvoet loop of oop skoene dra. Dit stel jou voete dan bloot aan die elemente en omgewing.

Gebarste hakke lyk nie net onooglik nie, maar kan ook tot pyn en infeksie lei.

Jy hoef egter nie te worry nie, want ons het wenke by goeiehuishouding.co.za gekry sodat jy jou voete self kan versorg.

Volg hierdie raad om jou voete tiptop te laat lyk én voel:

Week dit

Vul ’n kom of ’n voetspa met water en laat jou voete lekker lank daarin week om dit sag en skoon te kry.

Dit sal daardie harde vel op jou hakke versag sodat jy dit makliker kan behandel.

Gebruik ’n weekmiddel vir voete om moeë voete te help vertroetel en verkwik.

Skrop dit

Wanneer jou voete skoon en die vel sag is, verwyder dooie vel met ’n puimsteen of voetvyl. Skuur die probleemdele – jou hakke, die bal van jou voete en die kante van jou groottone – stadig in sirkelbewegings terwyl jy liggies op jou vel druk.

Bevog dit

Nadat jy die harde en dooie vel verwyder het, wend ’n ryk room aan. Dit sal jou voete lekker bevogtig. Die beste is om dit net voor slaaptyd te doen sodat die room behoorlik kan intrek.

Gebruik ’n afskilferaar

Oppas om jou voete té gereeld te skuur; dit kan jou vel beskadig. Gebruik gerus ’n voet­afskilferaar tussendeur skropsessies. Dit verwyder die boonste laag velselle om daardie sagte, soepel vel te ontbloot. Dit bevat boonop vitamiene wat goed is vir die algehele gesondheid van jou voete.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters