Verlede maand
Saam in skuld?
Praat dit uit: Vind ’n middeweg vir die verskille tussen jou en jou maat se finansiële beginsels en doelwitte.  ~ istockphoto

OM JOU verhouding te beskerm is so belangrik as wat dit deesdae moeilik is.

Het jy al ooit daaraan gedink dat skuld die boef is wat jou verhouding met ’n geliefde kan omvergooi?

Moet nooit “nooit” sê nie – finansies speel ’n sleutelrol in enige verhouding.

Te veel skuld kan jou verhouding vir seker ongesond laat en jou ongelukkig maak.

Aangesien dit die maand van liefde is (Valentynsdag volgende Vrydag), waarom maak jy dit nie ’n prioriteit om jou verhouding te beskerm teen daardie “skelmpie” genaamd skuld nie?

Volgens Carla Oberholzer, skuldadviseur by DebtSafe, is daar vyf sleutelfaktore waarmee jy kan verseker dat jou verhouding beskerm word teen skuld, wat daardie ongewenste indringer in julle verhouding is.

  • Sorg dat julle ’n oopboek-beleid handhaaf: Kommunikeer behoorlik oor julle geldsake, veral julle bestedingsgewoontes.

Vrylike kommunikasie oor finansies moenie gelos word vir eers later in die verhouding of ná die wittebrood nie.

Tye het verander en om van die begin af in jou verhouding oor geldsake te praat, is nié meer ’n verbode onderwerp nie.

Leer

Stel vrae op vir mekaar; bestudeer mekaar se be­stedingsgewoontes; vis meer uit oor mekaar se gedagtes rakende finansies en bestedingsmetodes.

Maak daarvan ’n gereelde, ontspanne en beleefde besprekingspunt.

Leer van mekaar, groei saam in denke en oorwin finansiële ellendes of bekommernisse

  • Oorweeg finansiële doelwitte vir die kort en lang termyn.

Vind ’n middeweg vir die verskille tussen jou en jou maat se finansiële beginsels en doelwitte.

Plaas julle individuele en gesamentlike planne op die tafel en onderhandel oor en oorweeg sekere voorwaardes daarvoor.

Dit is inderdaad finansieel gesond om uit te klaar wat die toekoms van julle geldsake kan inhou.

Hou in gedagte ook daardie korttermyn-planne wat nog oorweeg moet word (byvoorbeeld ’n Valentyns- of naweek-wegbreek) of lang termyn-planne (byvoorbeeld aftree-opsies.

  • Bepaal watter skuld die meeste skade aanrig aan julle verhouding.

Dit kan wees dat julle reeds finansiële spanning verduur weens skuld.

Vra julself watter skuld die meeste spanning in julle verhouding veroorsaak.

Probeer om julle skuld bietjie vir bietjie af te betaal, en hoekom begin julle nie met die skuld wat die hoogste rente beloop nie?

Lui die woord “kredietkaart” ’n klokkie? Miskien het jy en jou maat nie net een nie, maar twee of drie daarvan ...

Delf ’n bietjie in julle skuld en kry professionele hulp as dit nodig is. Oorweeg dit om julle skuld te konsolideer.

  • Soek volhoubare oplossings om jou skuldsituasie te verbeter. Spanwerk is van kardinale belang om dít reg te kry.

As julle reeds as ’n paartjie aan ’n begroting gewerk en verskeie oplossings probeer het (byvoorbeeld om skuld stuk vir stuk af te betaal), maar niks werk tot dusver nie, is skuldhersiening of -berading ’n uitweg wat julle kan oorweeg.

Moenie wag totdat ’n hofbevel uitgereik word nie.

Wanneer jy besef jy gaan agterstallig raak met betalings, of wanneer jy reeds in daardie penarie is, moet jy skuldberading as ’n uitweg oorweeg.

In die skuldberadingsproses kan ’n hof jou oorverskuldig verklaar en ’n geregistreerde skuldberader kan jou dan help om verskeie uitweë te oorweeg.

Byvoorbeeld of ’n enkele of gesamentlike aansoek gedoen moet word of hoe om jou begroting te herstruktureer volgens julle behoeftes.

Onthou, skuldberading is nie ’n betalingsvakansie nie, maar as julle jul bates (’n voertuig, huis, ens.) wil beskerm en julself uit skuld wil rehabiliteer, dan is dit inderdaad ’n volhoubare en geskikte uitweg vir jou en jou geliefde.

  • Hou aan om jou verhouding sterk te hou gedurende moeilike finansiële tye.

Dit is waar: ’n Mens leer uit ervaring. Gaan dus voort met die stryd om jou verhouding sterker te maak.

Hierdie keer behoort dit egter te wees met die regte maat aan jou sy.

Moenie toelaat dat die “skelmpie” – skuld – ooit weer tussenbeide tree nie.

Luister

Bly getrou aan jouself en jou verhouding deur te fokus op vrylike kommunikasie, goeie finansiële gewoontes, en weet dít: Selfs swaarkry het ’n einde.

Beskerm jou verhouding teen skuld.

Wees bereid om na jou geliefde te luister, vat tyd om te oorweeg hoe jy sal reageer en maak goeie finansiële keuses saam.

Julle verdien dit en julle sal beslis nie spyt wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters