2 maande gelede
RESEPTE: Mosbolletjies
lekker: Hierdie gereg word met piesangbotter voorgesit.foto verskaf  ~ 

JAN-HENDRIK van der Westhuizen was gaaf genoeg om sy legendariese mosbolletjieresep met my te deel vir hierdie boek. Jy sit die bolletjies voor saam met gebraaide piesangbotter, want alles is net lekkerder as dit eers met die vuur kennis gemaak het.

Bestanddele:

1 kg witbrood- of koekmeel

½ koppie suiker

20 g (2 pakkies) kitsgis

25 mF anys

12,5 mF sout

1 koppie druiwesap

1 koppie water

½ koppie melk

250 g gesoute botter (die helfte van ’n groot blok)

Vir die botter:

4 piesangs

250 g gesoute botter (die ander helfte van die blok), teen kamertemperatuur

Metode:

1. Gooi die meel, suiker, gis, anys en sout in ’n bak en meng deeglik.

2. Verhit die druiwesap, water, melk en botter saam in ’n pot of pan en roer.

Dit hoef nie te kook nie, maar moet net lekker warm raak. Soos die water van ’n lekker warm stort.

3. Gooi nou die warm vloeistof by die droë bestanddele en meng die spulletjie deur.

4. Was jou hande en knie die deeg so 10 minute lank totdat die deeg vir jou mooi lyk.

Ek sê 10 minute, want Jan-Hendrik sê 10 minute, maar in werklikheid raak ek gewoonlik moeg ná 5 minute en gaan dan aan na die volgende stap.

Maar Jan-Hendrik het ’n Michelin-ster en ’n span sous-chefs wat hom kan help om die deeg onder die knie te kry. So, natuurlik is 10 minute beter, maar 5 is ook reg.

5. Sit ’n klam vadoek oor die deeg en laat dit ontspan vir 30 minute.

6. Ná 30 minute behoort die deeg klaar te gerys het. Nou knie jy die deeg nog 5 minute. Die tweede keer se kniewerk is kenmerkend van mosbolletjies. Jy kan dit uitlos, maar dan kroek jy. So, doen dit eerder deeglik. (Ja, dis ’n deeggrappie.)

7. Sodra jy daarmee klaar is, rol die deeg met jou hande in klein balletjies, iewers tussen die grootte van gholfballe en tennisballe.

Pak die mosbolletjies lekker styf teen mekaar in jou nommer 10-platboompotjie, wat jy teen dié tyd ook behoorlik met botter gesmeer het.

8. Sit die deksel op die potjie en laat die mosbolletjies vir so 20 minute in ’n veilige, aangename en warm kolletjie langs jou vuur rys.

9. Sodra hulle dubbel so groot is, bak jy hulle rustig oor medium-warm kole vir 50-60 minute.

Jy wil die potjie op ’n staander hê met ’n klompie kole onder hom. Pak ook ’n paar kole op die deksel sodat hy genoeg hitte van alle kante kry.

Jou mosbolletjies is reg wanneer jy ’n sosatiepen of ’n mes insteek en die pen of lem nog skoon is wanneer jy hom uittrek.

10. Terwyl jy die mosbolletjies bak, braai jy die piesangs aggressief, skil en al, op die vuur totdat hulle swart raak en met ’n karameltekstuur begin skuim.

Haal van die vuur af en laat die piesangs ’n bietjie afkoel. Skep dan die koue piesangs se binnegoed in ’n bak uit.

Meng die gekaramelliseerde piesangvlees met sagte botter en roer deeglik met jou houtlepel totdat die spulletjie goed gemeng is.

Hou hierdie botter in ’n yskas totdat die mosbolletjies reg is.

11. Sit die mosbolletjies voor met ’n ordentlike leksel piesangbotter op.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters