18 dae gelede
Reël vakansie wat julle sak pas
See toe: ’n Uitstappie na die strand is ’n moet!  ~ 

ONS almal se gunstelingtyd van die jaar is naby en jy wonder seker al hoe jy jou reeds tight budget gaan rek om by jou Desember-planne uit te kom.

Ek het ’n paar idees vir jou en jou gesin gaan soek wat jou kinders én jou beursie baie bly gaan maak.

Maar voordat ons wegspring met die lekker idees, is dit belangrik dat jy vir die dinge moet begroot.

Ek sou hoop jy het dwarsdeur die jaar vir die tydjie af gespaar.

Kyk na jou gesin se behoeftes en die tjieng wat jy gespaar het om vas te stel watter vakansiekoers julle kan inslaan.

Maar moenie worry as jy nie gespaar gekry het nie.

Ek het ook ’n paar lekker idees vir diegene wat net by die huis gaan bly en glad nie enige tjieng wil (of kan) uitgee nie.

) Road trip

Neem jou familie op ’n road trip. Julle hoef nie in ’n fancy hotel te bly of bekommerd te wees oor die hotelgeriewe nie.

Beplan ’n paar belangrike bestemmings, landmerke of bekende natuurlike wonders. Julle kan ook ’n lekker road trip vat na familie wat ver van julle af bly en wat julle selde sien. So sny jy verblyfkoste uit.

Onthou tog om kos vir jou en die kids saam te neem. (Én vir die fandamily. My ma het my geleer jy daag nie leë hande by ander mense op nie, al is julle familie.)

) Huur ’n hut of tent

Vind ’n bekostigbare chalet te huur vir jou gesin.

Jy hoef dan nie te worry oor dinge om te doen nie, want julle sal sommer klaar in die buitelug wees.

Daar is baie dinge om te doen, soos om plaaslike parke te besoek, bikes te huur en te braai vir aandete. Julle kan ook geselsies en games-aande om die kampvuur hou.

Die reis sal ’n geleentheid vir julle almal wees om ’n breek van tegnologie en televisie te neem en weer die natuur en die buitelewe te ervaar.

) Vat ’n duik in see

Om ’n dag uit te ry strand toe saam met familie en vriende, is een van die beste en goedkoopste vakansie-idees.

Oos-Kapenaars, het julle al gehoor van Morgansbaai?

Hierdie stil strand lê soos ’n soom teen luisterryke kranse en is net ’n uur se ry van Oos-Londen.

Jy kan daar in die veilige strandmeer swem, perdry, gholf speel, voetslaan en visvang.

Dis ’n alles-in-een-bestemming wat almal in die gesin gelukkig sal maak. Jy kan op die luilekker strand ontspan teen R10 per persoon.

Wes-Kapenaars kla altyd die strande is vol en die verkeer na al die bekende swemplekke is druk.

Maar hier is ’n paar stil strande wat julle kan besoek: Witsand, Struisbaai, Scarborough, Water’s Edge Beach­, Stilbaai en Diaz-strand naby Kaappunt.

)Plekke om te besoek

Vir Oos-Kapenaars raai Lekke Slaap aan dat julle ’n draai gaan gooi by Siloam Vil­lage, wat buite Oviston geleë is.

Daar is minigholf, vierwielmotorfietse, bergfietse, swemplekke, visvangplekke, bootvaarte, wildkyk, stap, voëlkyk, kanovaart, kajakvaart, sterrekyk, vlugbal en soveel meer.

Julle kan ook die Green Fountain Farm Resort besoek.

Dié plaas net buite Port Alfred is ideaal vir ’n naweek vir die gesin. Hulle bied verskillende opsies vir verblyf sowel as ’n kampterrein.

Daar is ook ’n swembad, trampolien, speelarea vir die kinders en ’n braai-lapa.

Dis ook naby genoeg om die talle strande en doendinge van die Sonskynkus te verken.

Dié wat in die Wes-Kaap woon, kan gaan inloer by Gecko Rock.

Dit is in die Nougaspoortvallei sowat 25 km van Touwsrivier en bied ’n eko-vriendelike wegbreek.

Ontspan in die skaduwee met ’n goeie boek of ’n lekker drankie, gaan vir ’n 4×4-les, klim rots, ry bergfiets, gaan op ’n blom-en-vetplanttoer, of verkyk jou aan die voëls en sterre. Daar is sowaar iets vir elkeen in die gesin.

Kam’Bati sowat 20 km buite Swellendam word deurkruis deur die Sonder­end- en Breërivier. Daar is 4×4-roetes en jy kan ’n kano huur en paintball speel.

Foefieslaaid

Daar is ook ’n wonderlike waterwurm wat 60 m kronkel en die jongspan heeldag aan die gang sal hou.

Die Harkerville Forest Lodge op die Tuinroete is binne SanParke se grense geleë.

Daar is ook ’n swembad, vlugbalbaan, foefieslaaid en pool-tafel.

Jy kan verskeie wandelpaaie van hier af aanpak of die pragtige bosbokke en Knysnaloeries bekyk. Of braai in die woud terwyl die son ondergaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters