Verlede maand
Periodiek moeg?
los my af: Afgematheid gedurende jou maandstonde is die lyf se way om jou “terug te kry” daarvoor dat dit met ’n onbevrugte eiersel moet deal.foto’s verskaf  ~ 

IS DIT daai tyd van die maand wanneer jy konstant moeg voel?

Eintlik is dit normaal om intens moeg te voel gedurende jou maandstonde, sê die mense van goeiehuishouding.co.za.

Wanneer jy te kampe het met bloeding, opgeblasenheid, krampe, aknee en ál die ander “vreugdes” van jou maandstonde, wil jy op jou stukke voel sodat dit so pynloos moontlik kan “oorwaai”.

Maar ongelukkig ervaar baie vroue saam met hulle menstruasie ook ’n intense moegheid, en dit maak sake nóg moeiliker.

Daar blyk egter ’n mediese verklaring te wees vir dié moegheid gedurende menstruasie.

Dr. Molly O’Shea, ’n pediater (kinderarts) van Troy, Michigan, bied ’n wetenskap­like uiteen­setting daarvan.

O’Shea sê: “In die tien dae voor jou maandstonde is jou lyf in hoogste versnelling in die hoop dat die eiersel wat in die fallopiese buis vrygestel is, ’n spermsel sal ontmoet en dat dit dan in ’n weelderige uterus sal beland, waar ’n baba kan ontstaan.

“Wanneer ’n onbevrugte eiersel dus jou baar­moedervoering binnedring, is die hormone wat die omgewing in stand hou, skielik oorbodig en jou hormoonvlakke daal.

“Waar jou liggaam tot op daai punt in ’n toestand van uiterste paraatheid was, gebeur daar hormonaal skielik niks nie.

“Hierdie ommekeer veroorsaak ander veranderinge, en ál dié veranderinge is uiters energieslopend.

“Eers wanneer jou hormoonvlakke weer normaal is, herstel jy van die intense moegheid.”

Jou hormoonvlakke begin weer styg sowat ’n week nadat jou maandstonde begin het en bereik ’n hoogtepunt wanneer jy ovuleer (gewoonlik twee weke nadat jy weer begin menstrueer het).

Namate jou hormoonvlakke toeneem, word jou energievlakke ook gelig.

Op dae wanneer jy meer zombie as mens voel, kan jy jou kragte herlaai deur baie water te drink, oefening te doen, gesond te eet en minstens ag uur ’n dag te slaap.

En as dit nie genoeg is nie, kan jy jouself daaraan troos dat jy oor ’n paar dae weer jou energieke self sal wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters