3 maande gelede
Pause daai skermtyd
Wees ingelig: Te veel skermtyd kan jou kind se brein benadeel.  ~ istockphoto

WEET jy hoeveel tyd jou kind op sy of haar selfoon deurbring?

Weet jy ook dat te veel skermtyd nadelig kan wees vir jou kleinding se brein?

In ’n onlangse studie is bewys dat oormatige skermgebruik kinders se breinstruktuur kan verander, berig die webwerf jougesin. solidariteit.co.za.

Daar is bevind dat te veel skermtyd areas in die breinstruktuur kan verander.

Dis areas wat te doen het met die ontwikkeling van taal en geletterdheid.

Daar is veral kommer oor jonger kinders se skermgebruik, aangesien hulle in ’n kritieke ontwikkelingsfase is.

Gevolge van te veel skermtyd

Te veel screen time en screen time van swak kwaliteit is ook al gekoppel aan vetsug, slaapprobleme, gewelddadige neigings, gedragsprobleme en verlies aan sosiale vaardighede.

Die webwerf berig die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie (AAP) sê vandag se kinders word groot in die era van digitale media, wat ’n positiewe en negatiewe uitwerking op gesonde ontwikkeling het.

Werk ’n plan uit

Die AAP beveel aan dat ouers ’n mediaplan vir die gesin ontwikkel, een wat die gesondheid, opvoeding en vermaaklikheidsbehoeftes van elke kind en die hele gesin in ag neem.

  • Ouers moet pro-aktief wees rakende hulle kinders se gebruik van media en met hulle daaroor praat.

Dis omdat te veel media tot gevolg kan hê dat kinders nie genoeg tyd het om te speel, leer, gesels of slaap nie.

  • Die AAP beveel aan dat ouers kreatiewe, ongekoppelde speeltyd vir babas en kleuters prioritiseer.

Sommige media kan opvoedkundige waarde hê vir kinders vanaf 18 maande, maar dis van kritieke belang dat dit hoë kwaliteit moet wees.

Ouers van jong kinders word ook aangeraai om saam met hulle kinders na media te kyk om hulle te help verstaan waarna hulle kyk.

  • Met kinders wat reeds op skool is en jong volwassenes moet ’n balans gevind word tussen media en ander gesonde gedrag.

Probleme begin wanneer die gebruik van media fisieke aktiwiteite, praktiese verkenning en sosiale interaksie van aangesig tot aangesig in die regte wêreld vervang.

  • Die AAP beveel onder meer aan dat kinders jonger as 18 maande glad nie aan skermtyd blootgestel moet word nie, behalwe vir video­klets.

Vir kinders 18 tot 24 maande word aanbeveel dat ouers hulle kan blootstel aan programme van hoë kwaliteit en hul moet help om dit te verstaan.

  • Volgens die AAP moet skermtyd vir kinders tussen twee en vyf jaar oud tot een uur per dag beperk word en die fokus moet ook op hoëkwaliteit-programme wees.

Vir kinders van ses jaar en ouer moet konsekwente beperkings geplaas word op die tyd wat bestee word aan die gebruik van media en die soorte media.

  • Die AAP stel ook voor daar moet tye en plekke wees wanneer en waar geen media gebruik mag word nie, soos etenstyd en in die slaapkamer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters