Verlede maand
Om te leer lees kan lekker wees
WYS HULLE: Gebruik hierdie tyd om kinders te leer hoe om te lees.  ~ iStockPhoto

LEES kom nie maklik vir almal nie. Nie alle kinders kan leer lees slegs deur klanke bymekaar te voeg nie.

Swart woorde op papier plak nie vanself in elkeen se kop nie.

Terwyl ouers en kinders by die huis is, is daar nou genoeg tyd om buite die boks te dink en lees meer kreatief te benader.

Hier is nou ’n paar wenke van kieswetterklaskamer.wordpress.com wat jy kan gebruik om lees lekkerder te maak!

1. Flitskaarte

Elke kind moet sy eie alfabet-pak hê. Jy kan een koop of maak jou eie.

Dan kan jou kleintjie sommer self die woorde bou deur die klankies saam te voeg. Daarom gaan jy ’n paar ekstra klinkers en letters moet maak wat dikwels meer as een keer in woorde voorkom, sodat jou bloedjie woorde soos “boom” en “blaar” ook kan bou.

2. Klei

Klei bly lekker, of jy nou 2 of 20 is. Dit werk goed om letters mee te vorm.

Die fisieke beweging en groot motoriese inspanning om die letters te maak en dan die woord te bou, help die brein om dit beter te onthou.

Die kind kan ’n tandestokkie ook vat en die oefenwoord in die klei skryf.

3. Tydskrifprentjies

Hier kan maatjies tydskrifprentjies uitknip en in ’n boek plak of lamineer. Skryf dan die woorde neer op hul eie stukkie karton.

Dalk wil jy vir eers die prente kies sodat hulle binne die leesvermoë van jou kind is.

4. Speelgoed

Gebruik speelgoed wat jy in jou huis het en skryf die woorde neer vir die diertjies en groente en enige speelgoed wat jou jong lesertjie graag mee speel. Dan moet jou spruit speel.

Lees eers saam deur al die woorde. Herhaal die speletjie vir die hele week.

Aan die einde van die week sal dit goed wees as die leerder die woordjies kan neerskryf soos jy die speelgoed in ’n ry pak.

5. Plak dit op die voorwerp

Gee vir jou kind ’n pak woorde van voorwerpe wat te vinde is in jul huis.

Jou spruit moet die woorde lees en dit met gom of Prestik op die voorwerp plak.

Orals in jou huis gaan daar woordjies wees wat sy/haar oog kan sien, lees en onthou. Woorde soos venster, deur, yskas, trap, kaggel, boekrak, toilet, wasbak, spieël, lamp, stoel, vensterbank ensovoorts.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters