19 dae gelede
Maak wegsit minder schlep
DAAG FAM UIT: Daar is baie prettige maniere om geld te spaar, deur speletjies en uitdagings.  ~ istockphoto

JULLE, dis mos maar swaar om te spaar, maar ek hoop julle het nou in hierdie tyd besef hoe nuttig ’n spaargeldjie te pas kan kon.

Vir die meeste van ons met swak selfdissipline is spaar selfs in die beste tye moeilik. Ons hou mos eerder daarvan om geld uit te gee, nie om dit te spaar vir een of ander doelwit of vir ’n reënerige dag nie.

Om dus hierdie belangrike taak te onderneem, moet ons dit prettig en opwindend probeer maak.

Die webwerf finansies.solidariteit.co.za gee ’n paar wenke oor hoe om ’n geldjie weg te sit.

“Om geld te spaar hoef nie ’n blok aan die been te wees nie. Daar is baie prettige maniere om geld te spaar deur speletjies en uitdagings rondom jou spaardoelwitte te skep,” verduidelik Paula Pant, ’n deskundige in persoonlike finansies en skrywer aan die webwerf.

) Maak ’n speletjie daarvan.

Ons hou mos almal van speletjies, nè? Daag jouself uit om te sien hoeveel kos jy by die supermark kan aankoop vir R300, hoe jy jou ritte kan verminder of met hoeveel rand jy jou maandelikse kragrekening kan sny. Spaarsamige praktyke kan dan beskou word as ’n raaisel wat opgelos moet word pleks van net ’n las wat op jou geplaas is.

Jou kreatiwiteit word dus gebruik om geld te spaar en dit voel baie minder beperkend as bloot ’n manier te wees waarop jou besteding besnoei word.

) Speel die syferspeletjie.

Daar is verskaffers van finansiële dienste wat slim en prettige raad gee oor die aanwending van syfers om jou spaargewoontes ’n hupstoot te gee.

“Soms is dit pret om ’n ietwat lukrake syfer te kies waarheen jy mik – een wat net vir jóú iets beteken. Miskien is dit die geboortejaar van jou kind: R2 010 is nie so moeilik om te bereik nie, of hoe? Of miskien is dit jou selfoonnommer: R82, dan R354, dan R6 342. Jy wen!

) Skep ’n spaarkom­petisie.

“Kontak iemand anders wat in ’n finansiële knyp is: jou sibbe, jou beste vriend, of jou oefenmaat. Daag hom of haar uit om te spaar. Die persoon wat meer geld kan spaar oor die volgende maand, of ses maande, wen die kompetisie,” sê Pant.

“Julle kan onderhandel oor hoe julle ‘meer spaar’ definieer. Word dit gemeet aan ’n syfer – toegeken aan wie ook al die meeste spaar? Of word dit gemeet aan ’n persentasie van inkomste ná belasting? Dit kan selfs gemeet word aan hoe jou uitgawes verminder, vergeleke met hoeveel elk van julle die vorige jaar uitgegee het.”

Pant sê ongeag van hoe jy ’n spaarmaatreël kies, dis noodsaaklik dat die wenner nie ’n duur prys wen nie.

“Julle kan besluit die wenner kry spogregte.

Eenvoudig

“Of julle kan sê die verloorder moet een of ander diens lewer, soos om die wenner se kar te was.

“As julle besluit die prys moet ’n kontantuitgawe insluit, kan dit so eenvoudig wees soos die wenner wat ’n tuisgemaakte maaltyd ontvang.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters