4 maande gelede
Lewe asof jy altyd in die knyp is
WEES INGELIG: Leer meer oor geld, praat met finansiële raadgewers en leer oor banke se spaarplanne.  ~ iStockPhoto

AL IS ’n mens getroud of jy het ’n partner in jou lewe, is dit baie lekker om so finansieel onafhanklik moontlik van die ander persoon te wees.

Die finansiële guru Mary Waring deel 10 wenke vir vroue om finansieel onafhanklik te wees.

Dié wenke kom uit Waring se boek The Wealthy Woman – a Man is Not a Financial Plan en is saamgestel deur die koerant The Star.

1. Vergeet die gesegde “fake it till you make it”. Voordat jy jouself beloon met enige weelderige handsak of parfuum, moet jy eers die geld werklik verdien het. Korttermyn-bevrediging lei tot langtermyn- finansiële verdriet.

2. Begin op ’n vroeë ouderdom spaar, want jou beste finansiële vriend is saamgestelde rente.

3. Weet hoeveel jy werd is – wat in jou bankrekening is en wat jou bates is? Beoordeel jou geldelike status objektief – bates én skuld.

4. Volg die SMART-beginsel.

Spesifiek. Weet presies met hoeveel geld jy jou welvaart wil laat toeneem.

Meetbaar. Hou jou begroting goed dop. Weet waarvandaan die geld kom en waarheen dit verdwyn.

Attainable. Moenie onrealisties wees oor wat jy kan vermag nie.

Relevant. Kies waarvoor jy spaar – vir ’n huis of daardie Louis Vuitton-handsak.

Tyd. Stel vir jouself ’n datum teen wanneer jy jou geldelike doelwitte wil bereik.

5. ’n Man is nie ’n finansiële plan nie. Jy kan nie daarop reken dat jou eggenoot genoeg geld gaan verdien nie. En wat gebeur as hy sterf of julle skei?

6. Kry inligting. Leer meer oor geld, praat met finansiële raadgewers en leer oor banke se spaarplanne.

7. Onthou, klein besparings word groot besparings. Spaar eerder ’n klein bedrag gereeld. Dit groei darem tot ’n lekker neseier.

8. Doen gereeld boekhouding van jou uitgawes. Nes mense wat gereeld ’n rekord hou van hulle dieet om gewig te verloor, dit regkry, so spaar diegene wat ’n rekord hou van hulle geldsake ook meer.

9. Plastiek is nie altyd die antwoord nie. Moenie jou kredietkaart sommer uitruk nie. Studies toon jy bestee twee keer meer as wat jy sou wanneer jy kontant betaal.

10. Jy moet altyd ’n rainy day-fonds hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters