2 maande gelede
Leer oor gestremdheid, siektes
KYK UIT: Enige iemand kan ’n chroniese siekte opdoen, hetsy jonk of oud.  ~ Foto’s ter illustrasie: iStock

BEWUSMAKING van chroniese siekte en gestremdhede is belangrik.

Chroniese siektes is gesondheidsprobleme wat oor ’n lang tydperk kan voortduur. Mense met siektes soos suikersiekte, hart- en longprobleme, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, kanker en depressie dink dikwels hulle is gesond as hulle geen simptome het nie.

As jy geen simptome toon nie, beteken dit nie noodwendig jy het nie ’n chroniese siekte nie, of dit het verdwyn nie. Vroeë diagnose is belangrik. Jy moet jou syfers ken deur gereeld jou bloeddruk, cholesterol, risiko vir suikersiekte en gewig te kontroleer.

Rook

Dit sal jou risiko vir chroniese siektes verminder en jy moet leer hoe om dit met die regte behandeling en persoonlike sorg te beheer.

Enige iemand kan ’n chroniese siekte opdoen, hetsy jonk of oud. Maar die goeie nuus is chroniese siektes kan voorkom word deur gereelde fisieke aktiwiteite, gesonde kos, ’n gesonde gewig en deur rook en oormatige alkoholgebruik te vermy.

Desember is Gestremdheid-bewusmakingsmaand.

Die risiko en werklikheid van chroniese siektes onder gestremde persone word dikwels oor die hoof gesien.

Chroniese siekte kan die onafhanklikheid en gesondheid van gestremdes verminder aangesien dit bykomende uitdagings kan meebring.

Nooi­

Omdat gestremde persone dikwels sosiale uitsluiting ondervind en probleme kan hê om gesonde kos te verkry, is dit belangrik dat ons hulle by fisieke aktiwiteite en voedselbeplanning insluit.

Dit sal hulle gesondheid en onafhanklikheid bevorder.

Nooi hulle byvoorbeeld om saam met jou te stap, te dans of kos te berei. Mense wat ’n rolstoel gebruik, moet aangemoedig en ondersteun word om verskeie fisieke aktiwiteite te geniet.

Hulle kan byvoorbeeld stoel-oefeninge doen en dans en groente en vrugte aanplant met behulp van verhoogde planters vir maklike toegang.

Mense met gestremdhede is ons grootste minderheidsgroep wat alle ouderdomme, geslagte, gelowe, seksuele oriëntasies en sosio-ekonomiese vlakke insluit.

Die vrees vir die onbekende en ’n gebrek aan kennis oor hoe om met gestremdes op te tree en te kommunikeer, kan lei tot ongemak.

Punte om te onthou:

  • Vermy persoonlike vrae oor iemand se gestremdheid. As jy moet vra, wees sensitief en toon respek. Moenie uitvra as die persoon weier om dit te bespreek nie.
  • Wees bedagsaam oor die tyd wat dit ’n gestremde persoon kan neem om iets te doen of te sê.
  • Wees beleefd en geduldig as jy help en wag totdat jou aanbod aanvaar is. Luister of vra vir spesifieke instruksies.
  • Respekteer die aangewese parkeerplekke vir mense met gestremdhede.

Laat ons saam ’n inklusiewe samelewing skep waarin elke persoon, insluitend gestremdes, ingesluit voel om lewenstylkeuses te maak vir gesondheid en geluk!

WoW! is ’n gesonde leefstyl-samewerkingprogram van die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

  • Kontak ons en volg ons by:

www.westerncape.gov.za/wow;

Facebook: WoW! WesternCape on Wellness;

E-pos: wow@westerncape.gov.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters