8 dae gelede
Leer jou kids oor stranger danger
nee! Moenie toelaat dat jou kind alleen skool toe loop nie. foto verskaf  ~ 

MET al die kinders wat so met voertuie gegryp word, het ons dit goedgedink om ’n paar wenke te deel om jou kinders veilig te hou.

Dit is belangrik dat ouers hulle kinders opvoed oor hoe om krisisse te hanteer en hoe om op sulke misdadigheid te reageer.

Daar was onlangs minstens drie gevalle in Kaapstad waar kinders ontvoer is. Skole het toe waarskuwings aan ouers uitgestuur.

Jade Hanning, Kaapstad-Suid se distriksbestuurder van Fidelity ADT, sê dis belangrik om kinders in te lig oor dié gevaarlike situasies.

“As ouers en voogde is dit ons verantwoordelikheid om nie net ons kinders op te voed oor veiligheid nie.

“Ons moet hulle ook die nodige tools gee om sulke situasies te hanteer.

“Hoewel ons nie wil hê ons kinders moet in vrees leef nie, moet ons hierdie reguit gesprekke met hulle hê oor wat om te doen as dinge skeef loop.”

Hanning noem ’n paar eenvoudige stappe wat jou kind veilig kan hou.

  • Kinders moet nooit alleen van of na die skool stap nie.

Hulle moet die paaie vat wat hulle ken en nooit kortpaaie vat deur stil areas of leë parking lots nie. Hulle moet nooit met hulle selfone of enige devices in hulle hande loop nie.

  • As hulle by die skool opgelaai word, moet hulle nooit die skoolgrond verlaat nie. Sorg dat hulle altyd binne die skoolgrond wag vir hulle lifts.
  • Maak seker jou kinders verstaan hulle moet nooit in ’n vreemdeling se kar klim nie – nie eens as die vreemdeling sê jy het hom of haar gestuur nie.

Laat hulle mooi verstaan jy sal nooit iemand stuur wat hulle nie ken nie.

  • Dis dalk wys om ’n password system te gebruik.

As die persoon wat jou kinders kom haal, nie die password ken nie, moet jou kids nie in die voertuig klim nie. Hulle moet ook onmiddellik vir hulp vra.

  • As ’n vreemdeling met hulle praat, moet hulle nie met die persoon teruggesels nie. Dit maak nie saak hoe vriendelik die vreemdeling is nie. As iemand hulle probeer gryp, moet hulle skop, trap, baklei en hardop skree dat die persoon nie hulle ma/pa is nie.
  • Moedig jou kind aan om sekere fisieke besonderhede soos kleure en die motor­fabrikaat te memoriseer as hulle ’n verdagte persoon sien.
  • Maak seker jou kind memoriseer jou naam, julle adres en jou telefoonnommer. En hulle moet weet hoe om 10111 te bel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters