Verlede maand
Laat wiel slim
Nie perde koop: Werk uit hoeveel jy kan bekostig om maandeliks op ’n motor af te betaal. Foto: istockphoto  ~ 

KARKOOP is een van die grootste finansiële besluite wat jy in jou lewe sal neem – en jy gaan dit waarskynlik ’n paar keer in jou lewe moet doen.

Dis hoekom dit belangrik is dat jy ’n ryding koop wat aan jou behoeftes sal voldoen en jou nie in die steek gaan laat nie.

  • Volgens die webwerf finansies­.solidariteit.co.za is een van die eerste stappe in die proses is om uit te werk wat jy kan bekostig.

Kyk na jou begroting om te bepaal hoeveel jy maandeliks op ’n motor kan afbetaal.

Dis egter nie net die maandelikse terugbetalings wat jou sak gaan ruk nie. Versekering, brandstof, lisensiegeld en instandhouding knaag almal aan jou sak.

Uitgewerk

Kyk ook uit vir voorwaardes in die verskillende finansieringsopsies, soos ’n ballonbetaling waarvolgens jou maandelikse terugbetaling minder is, maar jy aan die einde van die ooreenkoms ’n groter bedrag moet inbetaal.

  • Wanneer jy uitgewerk het hoeveel jy op ’n motor kan uitgee, is dit tyd om vir krediet aansoek te doen indien jy nie die motor kontant kan koop nie.
  • Besluit eers watter motor jy soek. Soek jy ’n spesifieke model van ’n spesifieke fabrikaat of soek jy net ’n motor wat aan sekere behoeftes soos lugsakke, lugversorging en kragstuur voldoen?

Besoek motorwebwerwe en doen vergelykings tussen motors in dieselfde prysklas van verskillende vervaardigers met dieselfde eienskappe.

  • Die volgende besluit is of jy ’n nuwe of gebruikte motor wil hê. Nuwe motors het ’n waarborg en diensplan, maar gaan jou baie meer uit die sak jaag.

’n Gebruikte motor kan natuurlik ook nog binne ’n diensplan val en jy gaan goedkoper daarvoor betaal aangesien die motor reeds van sy waarde verloor het terwyl dit in die vorige eienaar of eienaars se besit was.

Wanneer jy ’n gebruikte motor koop, is dit belangrik om by ’n betroubare handelaar te koop.

  • Jy moet ook verseker die motor is nie gesteel nie.

Hiervoor sal jy moet seker maak die voertuig se dokumentasie is in orde.

  • Moet nooit ooit ’n kar sonder papiere koop nie. Veral as dit goedkoop is nie. Dis ’n groot red flag.

Dis ook belangrik om vas te stel of daar enige on­betaalde finansieringskoste op die kar is, anders kan jy verantwoordelik vir dié bedrag gehou word. Daar kan selfs op die motor beslag gelê word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters