2 maande gelede
Kyk uit vir enige signs van geweld
Kyk mooi: Die waarskuwingstekens van geweld teen kinders is nie altyd dieselfde nie. Die tekens is ook nie noodwendig almal gelyktydig teenwoordig nie.Foto’s verskaf  ~ 

DAAR is baie stories in die media oor skoolkinders wat misdade pleeg en gewelddadig is.

Kenners sê op jougesin. solidariteit.co.za daar is dikwels waarskuwingstekens in kinders se gedrag wat geweld voorafgaan.

Maar ouers moet wakker wees om dié tekens te identifiseer.

Volgens dr. Marshinee Naidoo, ’n spesialis-psigiater by die Akeso Alberton Psigiatriese Hospitaal, kan kinders reeds op ’n baie jong ouderdom geweld­dadig optree.

Ernstig

“Gewelddadige gedrag in kinders, ongeag hulle ouderdom, moet altyd ernstig opgeneem word. Ouers moet dit nie bloot afmaak as ’n fase waardeur die kind gaan nie,” waarsku sy.

Die waarskuwingstekens van geweld in kinders is ook nie altyd dieselfde nie.

Sulke tekens hoef nie eens gelyktydig teenwoordig te wees nie.

Naidoo sê die volgende tekens kan rooi vlaggies wees dat ’n kind moontlik tot gewelddadige gedrag kan oorgaan:

  • uitermatige gevoelens van isolasie en eensaamheid;
  • uitermatige gevoelens van verwerping;
  • min belangstelling in skool en swak akademiese prestasie;
  • uitdrukkings van geweld in skrywe en tekeninge;
  • sosiale onttrekking;
  • ’n lae toleransie vir frustrasie;
  • dissiplinêre probleme;
  • uitermatige geïrriteerdheid;
  • onbeheerste en intense woede; en
  • gereelde impulsiwiteit en humeurigheid.

Volgens Naidoo kan ál hierdie dinge wel ook voorkom as deel van normale kinderontwikkeling.

Dit word net ’n rede tot kommer wanneer dié gedrag nie met verloop van tyd verander nie.

Daar is ook verskeie risikofaktore vir gewelddadige gedrag in ’n kind.

“As ’n kind aan geweld blootgestel word, kan die kind gewelddadig raak,” verduidelik Naidoo.

“Kinders wat geweld in hulle gemeenskap sien of beleef, aan huishoudelike geweld blootgestel word of self die slagoffer van fisieke of seksuele mishandeling is, loop ’n groter risiko om self meer gewelddadig te raak.”

Naidoo voeg by geweld in die media, soos in rolprente, TV-programme en rekenaarspeletjies, kan ook kinders se risiko verhoog om gewelddadige gedrag te toon.

Kinders wat geboelie word of by bendes, dwelms en alkohol betrokke raak, loop ook ’n groter risiko om gewelddadig te word.

Gewelddadige gedrag in kinders en jong volwassenes kan verskeie vorme aanneem, waaronder:

  • fisieke aggressie of bakleiery;
  • plofbare woedebuie;
  • boelie-gedrag;
  • brandstigting;
  • pogings om ander leed aan te doen;
  • die gebruik van vuurwapens of ander wapens;
  • wreedheid teenoor diere; en
  • vandalisme en die opsetlike­ vernietiging van eiendom.

“Geweld lei duidelik tot geweld.

“Die moontlikheid van gewelddadige gedrag kan verminder word indien die risikofaktore beperk of heeltemal verwyder word,” verduidelik Naidoo.

“Ouers moet dus poog om hulle kinders se blootstelling aan geweld in die huis, die gemeenskap en die media soveel moontlik te beperk.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters