10 dae gelede
Kweek tuis kids se liefde vir lees
Begin vroeg: Son het nog nooit ’n boekwurm gangster teëgekom nie. Het jy? Foto’s: iStockphoto  ~ 

DEESDAE is onse klôgoed mos pal op die foon en hulle vat skaars aan ’n leesboek.

Nie almal is lief vir lees nie. Tog is dit ’n baie, báie belangrike deel van enige mens se lewe. Daar is al oor en oor bewys dat kinders wat nie van lees hou nie, op skool en universiteit sukkel. Maar hoe kweek jy die liefde by jou kinders aan?

Die webwerf jougesin. solidariteit.co.za raai aan dat jy vroeg met jou kinders begin. Met elke boekie wat jy van babadae af voorlees, berei jy jou kind se brein, ore en oë voor op latere leesvaardighede. Maak storietyd spesiaal en hulle sal die res van hulle lewe die vrugte daarvan pluk.

’n Kind gaan net lees as hy lief vir lees is. En om dié liefde te kweek, moet ouers die voorbeeld stel.

Onderwysers kan ’n kind leer lees, maar die liefde vir lees word tuis gekweek.

Om elke dag net 20 minute vir kinders voor te lees, het talle voordele. Dit:

  • versterk verhoudings;
  • bevorder luister- en taalvaardighede;
  • leer jou kind konsentreer; en
  • moedig nuuskierigheid aan.

Van voorlees kom saam lees en later self lees.

Dit beteken nie jy moet ophou voorlees sodra jou kind self kan lees nie.

Voorlees bly ’n noodsaaklike deel van lesertjies se leerproses.

Maak jou kind ’n boekwurm met hierdie wenke van jougesin.solidariteit. co.za:

  • Lees reeds van babatyd af en maak storietyd ’n spesiale tyd. Maak snaakse stemme, groot oë en fluister. Lééf die storie. Jy hoef nie altyd te lees nie. Dink sommer partykeer jou eie storie uit.
  • As kinders “groot genoeg” is om ’n eie bedlampie te kry, laat hulle saans ná storietyd ’n klein rukkie lê en “lees” (boekies deurblaai). Al moet jy later uit jou eie bed klim om self die liggie te gaan afsit en die boek te bêre.
  • Daar is nie iets soos ’n kind wat nie van boeke hou nie. As hy of sy nie van boeke hou nie, het hulle bloot nog nie die regte boek in die hande gekry nie. Koop boeke oor onderwerpe waarvan jou kind hou.
  • As jy ’n kind vir iets beloon, doen dit met boeke pleks van kos of speelgoed.
  • Help jou kinders om hulle eie boeke te maak. Skryf hulle storie neer, laat hulle dit illustreer en dan kram julle alles vas.
  • Neem hulle gereeld biblioteek toe. Laat hulle daar tussen die rakke boeke wegraak sodat dit moeilik raak om te besluit watter boek hulle huis toe wil neem. Só maak jy hulle opgewonde oor boeke, dan sien hulle daarna uit om volgende week weer te gaan.
  • Moet hulle nie te vroeg aan tegnologie blootstel nie. ’n Boek kan gou oninteressant lyk langs ’n tablet of selfoon. Laat kinders van kleins af kennis maak met boekies wat interaktief is met flappies wat kan lig, verskillende teksture op bladsye, ensovoorts.
  • Maak seker jou huis is leesvriendelik met genoeg plek vir lekker opkrul met ’n boek. Sorg dat daar boeke is wat jou kind maklik in die hande kan kry. Jou kind moet boeke ook met plesier verbind, nie net met skoolwerk nie.
  • Maak ’n Saterdag­oggend-uitstappie daarvan om kinders na boekwinkels te neem. Moedig hulle aan om rustig in die leeshoekies te sit en boeke deur te blaai. Beloof hulle dan dat elkeen ná ’n uur een boek mag kies. Dit leer kinders dat lees ’n rustige ervaring is.
  • Moenie jou eie leestyd hou vir wanneer die kinders slaap nie. Laat hulle sien hoe jy op die rusbank lê en ’n boek geniet of in die motor lees terwyl jy by die skool wag. Hulle moet kan sien jy is ook lief vir lees.
  • Pleks daarvan om saam televisie te kyk, kan julle saam lees, al beteken dit jou kind blaai net deur ’n mooi prenteboek of tydskrif. Die tyd saam moet genotvol en ontspanne wees en moenie soos werk voel nie.
  • Moenie ’n lees-snob wees nie. Laat jou kind strokies lees as hy of sy daarvan hou. Lees is lees!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters