11 dae gelede
Kry jou geldsake nóú agtermekaar
IN JOU 30’s: Dit is nóú die tyd om met strategieë te begin wat jou finansiële situasie in die toekoms kan verbeter.  ~ istockphoto

JOU 30’s is ’n kritieke tydperk in jou lewe – veral uit ’n finansiële oogpunt.

Essie Bester skryf op die webwerf finansies.solidariteit.co.za dat die leerfase van jou 20’s dan pas agter die rug is en dat dit die aangewese tyd is om strategieë in werking te stel wat jou finansiële situasie in die toekoms kan ver­beter.

Hier is ’n paar tekens dat jy nie jou geldsake in jou 30’s nog nie onder beheer het nie.

) Jy koop te veel met kredietkaarte.

Dit raak ’n gewoonte om dié stukkie plastiek te gebruik om te betaal vir items wanneer jou inkomste te min is. Maar hoewel ’n kredietkaart nuttig is en sekere tasbare voordele bied, word dit nie verniet wentelskuld genoem nie - dit word opgestel met die idee om jou aan skuld vasgeketting te hou.

Dis nóú die tyd om weg te breek van dié gewoonte. Betaal jou kredietkaartsaldo ten volle en raak van jou kredietkaart ontslae.

) Jy en jou lewensmaat is op verskillende finansiële paaie.

Dis belangrik dat julle dieselfde oor geld moet dink. Met dieselfde doel in gedagte sal dit jul pogings verdubbel en só word die doel vinniger bereik. Bepaal ten minste een ??keer per jaar saam waar julle op die finansiële spektrum lê en bespreek jul toekomsplanne.

) Jy koop ’n motor wat jy nie regtig kan bekostig nie.

Nuwe motors is duur en verloor binne die eerste drie jaar tot 50% van hul waarde. Die koop van ’n goeie gebruikte motor kan jou maandelikse motorpaaiement halveer en meer geld tot jou beskikking stel om te spaar.

) Jy lewe te lekker.

Beheer onnodige uitgawes deur ’n begroting op te stel. Indien jy vind dat luxuries jou baie kos, moet jy die bedrag bepaal wat jy maandeliks daaraan spandeer, dit in die helfte sny en daarmee probeer uitkom.

) Jy het duur vriende.

Vriende wat maklik geld uitgee, gaan jou heel waarskynlik in die versoeking bring om met hulle te probeer tred hou.

Jy is nie Kim Kardashian nie. Werk daaraan om jou sosiale kring op goedkoper aktiwiteite te laat fokus of kry vir jou meer spaar­samige vriende.

) Jy belê nie (of jy belê nie genoeg nie).

Die tydwaarde van geld is ’n kritieke dinamiek wat jy in jou guns moet laat werk. Leer hoe saamgestelde rente werk. As jongmens het jy ’n ongelooflike geleentheid om welvaart te bou. Jy het ’n onskatbare bate, naamlik tyd, wat in jou guns kan werk danksy saamgestelde rente.

) Jy trek nie volle voordeel uit jou aftreeplan nie.

Te min Suid-Afrikaners beplan vir aftrede terwyl hulle nog jonk is. Studies bewys dat die eerste tien jaar eintlik die meeste tel wanneer dit by aftreespaargeld kom, danksy die voordeel van saamgestelde groei – selfs al dra jy relatief min by aan die begin van jou werkloopbaan.

Indien jy in ’n werk is waar jy die opsie van ’n pensioenfonds het waar jou werkgewer die ander helfte maandeliks betaal, moet jy dit aangryp.

Saam met saamgestelde rente kan dit vir jou teen aftreetyd miljoene rande beteken.

) Jy beplan nie vir jou kinders se studies nie.

Die koste van opvoeding styg vinniger as inflasie. Indien jy nie nóú begin spaar nie, gaan jou droom om jou kleinding eendag graad te laat vang ál hoe verder buite bereik raak.

Gebruik opvoedingshulpmiddels en ’n gekwalifiseerde finansiële raadgewer om jou te help bepaal hoeveel jy elke maand moet wegsit vir jou kind se naskoolse opleiding en studies. Maak seker jy verhoog dié bedrag jaarliks.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters