9 dae gelede
Krismis is weer sterk op pad
begin nou al: Hoe beter ge­organiseerd jy is, hoe minder flaters sal daar wees.Foto: istockphoto  ~ 

ONS is nou net 78 dae weg van Krismis.

Julle kan nou dink ek is mal, maar hoe gouer jy jou Kersinkopies en -geskenke afhandel, hoe goedkoper sal dit uitwerk.

Die webwerf mycederberg.com meen die eerste en belangrikste ding om nou al te doen, is om te begroot voordat jy enigsins verder beplan.

Hou kos, versierings, geskenke, uitstappies, kuiers en selfs die koste van parkering by sekere winkelsentrums in gedagte. Werk uit wat jy sal nodig hê deur alles neer te skryf.

So sal jy sekerlik uitvind wat die belangrikste is.

Kommunikeer

In Desember reël almal graag kuiers. Bring dus almal se kuier-datums, jou eie ook, op ’n kalender aan om misverstande te voorkom.

Maak ook notas oor wanneer jy sekere items sal benodig of noodsaaklike aktiwiteite moet begin, byvoorbeeld wanneer jy jou versiering of koekie-gebak moet doen.

Hoe beter georganiseerd jy is, hoe minder flaters sal daar wees.

Besluit by wie of watter familie jy en jou gesin Kersfees gaan deurbring. As ’n middagete of dinner by jou is, moet jy fyn beplan en goed met jou gaste kommunikeer oor wat dalk van hulle verwag word.

Sodra jy weet wie gaan kom, stuur amptelike uitnodigings uit. As gaste gaan oorbly, maak lysies van wat jy sal nodig kry – toiletpapier, dalk nuwe lakens, ensovoorts.

As jy Kersfees by iemand anders gaan deurbring, maak seker wat jy moet voorberei.

Begin nóú al geskenke soek vir geliefdes. Kyk uit vir specials. Maak ’n lys van almal vir wie jy geskenke moet koop. Jy het nou meer tyd om reguit te dink vir wie jy wat moet koop.

As jy geskenke oor die internet koop, is Oktobermaand die geskikste tyd om so te doen. Jy hoef dan nie te bekommer oor of die geskenke betyds afgelewer sal word nie.

Gaan nóú al deur jou gunsteling- of nuwe resepte wat jy die komende Kersfees wil gebruik.

Stel dan ’n inkopielys saam van alles wat jy sal nodig kry. Koop dan solank die nie-bederfbare bestanddele en bêre dit agter in jou koskas. As jy van die idee hou om sekere resepte klaar te maak en te vries, byvoorbeeld souse en vulsels, kan dit jou Kersoggend dalk geriefliker maak.

Onthou dat jy nie alles alleen hoef te doen nie. Span jou geliefdes in om te help met die voorbereiding vir Kersdag.

Miskien kan die kinders solank begin versierings maak. Jou wederhelf kan dalk solank hout bymekaar maak vir heerlike braai-kuiers en selfs sy oog oophou vir wat jy dalk misgekyk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters