6 maande gelede
Koel dit net af ...
innie koelkas: Jy kan skoonheidsprodukte soos naellak, gesigmaskers, ensovoorts, in die yskas bêre. Foto: makeupandbeauty.com  ~ 

DAMES, het julle geweet ons kan ook ons skoonheidsprodukte in die yskas bêre?

Die webtuiste goeiehuishouding.co.za lys dié ses skoonheidsprodukte wat beter daaraan toe is in die yskas.

  • Oogroom

Een van die grootste probleme wat ons oog-area affekteer, is pofferigheid. Dis dié dat daar soveel rome met verkoelende formules is om sakkies onder die oë te verwyder. Maar daar is nóg ’n oplossing. Oorweeg dit om jou oogroom in die yskas te bêre. Dit sal jou oë oombliklik verfris en jou wakker en gereed vir die dag laat lyk.

  • Vitamien C

Vitamien C het ’n hele rits velsorgvoordele en is deesdae só gewild dat baie handelsname dit in hulle produkte begin gebruik het. Die probleem is net dat dit struktureel onstabiel is, wat beteken dat dit van sonlig en hitte weggehou moet word om te voorkom dat die produk anders met die vel reageer. Ook maar goed dat yskaste koud én donker is!

  • Oogomlyner

Sommige oogomlyners moet vir ’n wasige voorkoms effens gesmeer word, maar soms wil jy skerp, presiese lyne hê. In daardie geval is dit ’n goeie idee om jou oogomlyner ’n paar uur voor aanwending in die yskas te plaas. Dit sal die produk laat verhard sodat dit makliker skerpgemaak kan word, wat weer tot ’n akkurater omlyning lei.

  • Maskers

Ons vel word daagliks aan omgewingsfaktore soos sonstrale en besoedeling blootgestel, en dit kan ’n tol eis. Ná ’n lang dag is ons vel dikwels geïrriteerd of ontsteek – en desperaat vir ’n bietjie vertroeteling. Een effektiewe oplossing is om jou laagmasker (sheet mask) in die yskas te bêre. Sodoende sal dit dadelik koel en kalmerend op jou gesig wees wanneer jy dit gebruik.

  • Gesigsproei

Gesigsproei is ’n wonderlike manier om jou gesig te verkwik wanneer jy wil afkoel of ’n bietjie verfrissing nodig het. Nóg beter – jy kan dit direk uit die yskas aanwend. Die koeler temperatuur sal jou porieë laat krimp, enige rooiheid verlig, jou vel streel en ’n egaliger voorkoms gee.

  • Naelpolitoer

Dis erg frustrerend om jou vir ’n tuismanikuur reg te skuif, net om te ontdek dat jou gunsteling-naelpolitoer geskei het of dik en klonterig geword het. Een manier om die proses te voorkom – of minstens te vertraag – is om jou botteltjies in die yskas te hou. Die koue sal help om die formule stabiel te hou en ’n gladde aanwending verseker.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters