16 dae gelede
Kleure van klere
RUSTIG: Peilings toon blou, veral donkerblou, is die beste keuse vir ’n werkonderhoud.  ~ Istockphoto

IN ’N onderhoud vir werk het jy net sewe sekondes om daardie eerste indruk te laat geld.

Jou kleredrag en die kleure wat jy dra, verklap reeds baie van jouself aan jou potensiële werkgewer.

Behalwe dat jy moet verseker dat jou klere gepas is, moet jy ook op die kleur van jou uitrusting let.

Die kleure wat jy dra, stuur ’n subtiele boodskap aan die onderhoudvoerder.

Natuurlik geld ál dié reëls nie as jy vir ’n werk in die mode-bedryf aansoek doen nie. Wanneer jy dus aansoek doen om werk, neem altyd die bedryf en maatskappy in ag.

Kies soliede kleure

Patrone kan die persoon se aandag aflei en dit op jou uitrusting laat fokus pleks van op jou bevoegdheid. Kies eerder soliede kleure sonder patrone. ’n Dun streephemp of -broek is egter steeds gepas.

Moenie oorboord gaan met kleur nie

As jy ’n neutrale uitrusting aan het, kan jy een kleurryke item by jou uitrusting voeg.

’n Swart knie-lengte-rok met rooi skoene is altyd ’n wenner.

Die webwerf welstand.solidariteit.co.za gee die volgende raad oor die kleure wat jy na ’n onderhoud behoort te dra:

  • Swart – Dié kleur kan baie uitdagend wees. Dit beeld mag, leierskap, outoriteit en selfs drama uit. Dis ’n goeie keuse as jy vir ’n hoëprofiel-werk aansoek doen, maar wees versigtig as jy vir ’n pos as assistent aansoek doen, want dit kan die onderhoudvoerder intimideer.
  • Wit – Dit beeld eerlikheid uit en is ’n baie goeie keuse vir ’n bloes of hemp.
  • Blou – Peilings wys dié is jou beste keuse vir ’n onderhoud, veral donker skakerings daarvan. Blou laat jou meer in beheer, eerlik en rustig voorkom.
  • Grys – Ook ’n gewilde kleur vir onderhoude. Dit laat jou gesofistikeerd lyk.
  • Rooi – Dit moet versigtig gebruik word en eerder net as ’n aksent-kleur. Dit beeld passie, aggressie, liefde en energie uit, maar dit kan die verkeerde boodskap stuur, byvoorbeeld dat jy oor-emosioneel is. Tog is daar studies wat toon wenners, van sportspanne tot uitvoerende direkteure, dra meer rooi.
  • Bruin – Dis ’n rustige, neutrale kleur wat mense gerusstel, maar dit kan jou ook ouderwets laat voorkom. Wees dus versigtig wanneer jy dié kleur dra.
  • Oranje – Hou eerder verby. Peilings toon dié kleur is een van die slegste keuses vir ’n onderhoud. Hoekom? Dit blyk mense hou net nie daarvan nie.
  • Pers – Dis ideaal as jy vir ’n werk in ’n kreatiewe veld aansoek doen. Dit beeld kreatiwiteit, uniekheid en kunstigheid uit.
  • Geel – Nóg ’n goeie keuse vir ’n pos in ’n kreatiewe veld. Dit beeld ook kreatiwiteit en positiwiteit uit.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters