Verlede maand
Kinders word altyd bedreig
weerloosheid self: Maak seker jou kinders is te alle tye beskerm.foto verskaf  ~ 

MET die vlaag van geweld wat vroue en kinders deesdae verduur, moet ons ons kinders veilig hou teen die bose elemente in ons gemeenskappe.

Glittermag het met ds. Santie Nel gesels oor wat ouers kan doen om seker te maak hulle kleintjies is veilig. Nel werk al jare met gesinne en kinders en is ook die hoof van ’n kleuterskool.

Nel meen dis sleg om te leef in ’n tyd waarin ons ons kinders paraat moet maak oor al die gevare wat om hulle skuil, maar as ouers en toesighouers kan ons nie bekostig om reaktief daaroor te wees nie.

’n Kind kan in ’n oogwink leed aangedoen word, maar deur pro-aktief op te tree, kan ons lyding verhinder of beperk.

Wees self paraat oor wat om jou aangaan en weet waar en met wie jou kinders is.

Let op hulle gewoontes wat die sosiale media betref. Hulle kan boosdoeners onwetend inlig oor die gesin se roetine, en hulle die geleentheid bied om dit uit te buit.

Wees stiptelik wanneer jy jou kinders by die skool moet oplaai of vir buitemuurse aktiwiteite waaraan hulle deelneem.

Kinders wat buite ’n huis of skoolterrein wag, is maklike teikens.

Gee jou kind ’n kodewoord wat gebruik moet word as dit ooit gebeur dat jy hom of haar nie self kan oplaai nie of wanneer jy reël dat iemand anders jou die guns doen.

Wie ook al jou kind kom oplaai, moet die kodewoord vir jou kind kan gee voordat hy of sy in die voertuig klim.

Wanneer ’n vreemdeling jou kinders nader en nonsens met hulle praat of hulle probeer weglei, moet hulle skree: “Los my! Jy is nie my ma/pa nie!” Leer hulle om dit so hard moontlik te skree vir aandag.

Span tegnologie in om jou kind se bewegings te monitor. Daar is byvoorbeeld GPS-horlosies vir kinders.

Stel ’n spesifieke gebied waarin hulle mag beweeg. Die horlosie waarsku jou dadelik as die kind buite daardie gebied beweeg.

Jy kan hulle ook opspoor met ’n app op jou foon wanneer jy nie naby is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters