3 dae gelede
Kies om te slaag
NIE VINKEL EN KOLJANDER: Wat kinders wil bereik, bepaal hulle keuses. Foto: foto24  ~ 

LEERDERS in gr. 9 moet binnekort besluit watter vakke hulle die volgende drie jaar wil neem.

’n Onderwyskenner waarsku dat mense mooi oor hierdie vakkeuse moet dink, want dit kan beduidende gevolge vir ’n kind se toekoms inhou.

Dr. Gillian Mooney het begrip daarvoor dat dit vir tieners ’n moeilike taak kan wees. Mooney is die dekaan van akademiese ontwikkeling en bystand by The Independent Institute of Education.

Kopkrap

“Dis moeilik om nou (gr. 9-)vakke te kies, want baiekeer weet die kinders nog nie eens wat hulle wil word nie.”

Mooney sê gr. 9-leerders moet minstens sewe vakke kies. Vier vakke is verpligtend: die huistaal, ’n tweede taal, wiskunde of wiskundige geletterdheid en lewensoriëntering.

Dis die ander vakke wat ’n mens laat kopkrap.

“Omdat daar nie meer sogenaamde verpligte vakke is nie, word verwag dat die ander vakke makliker kan wees.”

Volgens Mooney moet die kinders vakke kies wat hulle in staat sal stel om ’n rigting te volg waarin hulle belang stel.

As hierdie rigting opleiding aan ’n universiteit vereis, is dit nodig dat die kind vakke neem wat hulle hiervoor in aanmerking sal laat kom. Volgens Mooney is wiskunde byvoorbeeld hier belangrik – dis by baie universiteite ’n vereiste.

“As hulle nie seker is wat hulle later wil doen nie, moet die vakke so gekies word dat hulle ná skool in basies enige rigting kan ingaan.”

Ouers en onderwysers kan die gr. 9’s help deur saam oor die vakke na te dink en dit met hulle te bespreek.

Behelp

Vanselfsprekend is dit voordelig om vakke te kies waarin die kind goed vaar. Dit kan help ver­seker dat hulle punte die laaste drie jaar van hulle skoolloopbaan goed is.

Maar ’n mens moenie so behelp wees met goeie punte dat jy relatief maklike vakke kies wat jou op die ou einde nie help nie.

Hoewel vakke soos geskiedenis, rekenkunde en wiskunde dalk as moei­liker beskou word, kan dit goud werd wees.

“Dit gaan nie wys wees om net op kort termyn te dink en met mak­liker vakke goeie punte te kry nie.

“Dink aan die toekoms. Vat kwaliteitvakke wat jou later kan help. Kies reg en byt vas dat jy ’n soliede fondament kry.”

Mooney benadruk dis belangrik om soveel moontlik inligting te kry.

“Kyk na wyer keuses as jy verder wil swot.

“Jy moet soveel moontlik vaardighede ontwikkel.” – The Independent Institute of Education

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters