2 maande gelede
Jy alleen kan jou eie waarde boost
SELFBEELD: Dis uiters belangrik dat jy werk aan jouself om jou te verbeter.Foto: MORE-SELFESTEEM.COM  ~ 

WAT is ’n selfbeeld?

Dis presies wat die woord sê. Dit is die beeld wat jy van jouself in jou gedagtes het. Met ander woorde, hoe jy jou aan ander mense projekteer en wat jy van jouself dink.

Die mens is geskep om suksesvol te wees en almal word met ’n goeie selfbeeld gebore.

Dit is die invloede van die dag van ons geboorte wat ons selfbeeld in die latere lewe bepaal.

As ’n kind met ’n klomp negatiewe faktore grootword, soos ’n gespot op skool deur ander kinders of swak huislike omstandighede, kan dit dié persoon se selfbeeld as ’n volwassene beïnvloed.

Dit kan so erg wees dat hy of sy minderwaardig voel en gevolglik ’n swak selfbeeld het.

Hy of sy sal nooit in die lewe kan presteer of suksesvol wees nie.

Wat kan ons doen om dit te verander?

Dink mooi na en gaan identifiseer wat dit is wat jou minderwaardig laat voel.

Wat veroorsaak jou swak selfbeeld? Skryf dit neer.

Nou gaan maak jy ’n tweede lysie soos jy jou graag wil sien, as ’n suksesvolle persoon.

Skep ’n prentjie in jou gedagtes van jouself as suksesvol.

Jy is besig om die negatiewe invloede in jou lewe te vervang met positiewe gedagtes.

Positiewe gedagtes alleen beteken vir jou niks as jy nie vir jou spesifieke doelwitte stel nie.

Jou doelwitte moet ook dan volgens spesifieke metodes beplan word om uiteindelik ’n werklikheid te word.

Jy moet ook spesifieke take daaraan koppel wat daagliks afgehandel moet word om jou doelwitte te bereik.

Om mee te begin, stel vir jou kleiner doelwitte op wat heelwat makliker bereikbaar is.

Sodoende bou jy ’n goeie selfbeeld op deur kleiner suksesse wat later tot groter suksesse sal lei. – weebly. com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters