16 dae gelede
Juggle só struggles
WEES REALISTIES: Moenie vir jou kinders onbereikbare doelwitte stel nie.  ~ istockphoto

IN HIERDIE tyd moes ouers skielik ook onderwysers word. Dit is een van die moeilikste ekstra take wat hulle op hulle moes neem.

Dis nie altyd maklik om jou eie kinders akademies te onderrig nie. Gelukkig het ek vir ouers op jougesin.solidariteit.co.za raad gevind. Hier is wenke wat kenners met die webwerf gedeel het.

  • Moenie die huis in ’n skool omskep nie. Daar is te min tyd in ’n dag om agt ure aan skoolwerk af te staan. Wees buigsaam en moenie die genot uit jul samesyn wegneem deur als te beheer nie.
  • Moenie vir die kinders doelwitte stel wat hulle nie sal kan bereik nie.
  • Roetines verskil van gesin tot gesin. Die volgorde waarin die werk gedoen word, is minder belangrik as die omgewing en hoe jy dit toepas. Die optimale tuisonderwysskedule is die een wat die betrokke kind besig hou. Ouers sal die meeste sukses behaal as hulle saam met hul kinders ’n skedule opstel wat aan elkeen se individuele behoeftes voldoen.
  • Moenie heeldag in dieselfde vertrek sit nie. Doen verskillende take in verskillende areas, en sorg dat julle ook buite kom. Fisieke aktiwiteit in rustye kan die kinders help om beter te konsentreer.
  • Gebruik die internet en selfstudie waar moontlik. Jy hoef veral nie oor jou hoërskoolkinders te waak elke oomblik dat hulle met skoolwerk besig is nie. Laat hulle begin verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie vordering.
  • Beheer wat jy kan en moenie oor die res stres nie. Ons leef in ongekende tye en dinge is nie normaal nie. Dit waarmee ouers op die oomblik besig is, is nie regtig tuisonderrig of tradisionele skoling nie; dis ouerskap tydens ’n pandemie. Jy moet aanpassings maak en jou prioriteite herrangskik. Jy gaan heel moontlik nie so produktief soos gewoonlik wees nie en die huis gaan nie so skoon en netjies wees soos jy sou wou gehad het nie.
  • Laat hulle toe om laat te slaap. Begin jul dag op ’n positiewe noot, rustig en sonder konflik. Jy kan solank met jou eie werk aangaan terwyl jou kinders nog slaap.
  • Onderwys gaan nie net oor wat in die boeke staan ??nie. Dit gaan ook oor die ontwikkeling van karakter, gemeenskap en respek. Elke oomblik bevat ’n moontlike les. Jy kan jou kind ’n koekieresep laat volg wat sy moet verdubbel. Só pas sy wiskunde toe.
  • Kyk na jouself en moet jou nie met ander ouers vergelyk nie. Kry genoeg slaap, eet gesond, bring tyd op jou eie deur, oefen, en doen iets wat jy geniet. As jy nie na jouself omsien nie, gaan alles kort voor lank uitmekaarval.
  • Jy hoef nie jou kind se onderwysers te vervang nie. Wees net jouself en ondersteun jou kind as sy of haar liefdevolle ouer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters