20 dae gelede
Ja, kinders raak ook depressief
LET OP: Kinderdepressie is volgehoue neerslagtigheid.  ~ iStock

HOE weet jy jou bloedjie is net buierig of neerslagtig en ly nie aan kinderdepressie nie?

Dr. Eugene Brink sê op die webwerf jougesin.­solidariteit.co.za dat buie en neerslagtigheid nie vreemd is by kinders van verskillende ouderdomme nie.

Maar as die negatiwiteit en neerslagtigheid vir lang tydperke aanhou, is dit tyd om in te gryp, want dit kan beteken dat jou kind aan kinderdepressie ly.

“Kinderdepressie verskil van die alledaagse blues wat die meeste kinders kry soos hulle ontwikkel,” skryf dr. Dan Brennan, mediese kun­dige en bydraer tot WebMD.

“Die feit dat ’n kind bedruk, eensaam of geïrriteerd voel, beteken nie dat hy of sy kinderdepressie het nie.

“Kinderdepressie is volgehoue neerslagtigheid. As dit voorkom, voel die kind alleen, hopeloos, hulpeloos en nutteloos.

“As hierdie tipe neerslagtigheid nie ophou nie, ontwrig dit elke deel van die kind se lewe.

“Dit meng in met die kind se daaglikse aktiwiteite, skoolwerk en portuurverhoudings. Dit kan ook die lewe van elke gesinslid affekteer.”

) Oorsake en voorkoms

Brennan sê die presiese oorsake van kinder­depressie is onbekend.

Hy sê: “Dit kan veroorsaak word deur ’n kombinasie van faktore wat betrekking het op fisieke gesondheid, lewensgebeure, familie­geskiedenis, omgewing, genetiese kwesbaarheid, en biochemiese versteuring.”

Die kinder-en-adolessentepsigiater dr. Brendan Belsham glo dat genetiese en omgewingsfaktore ewe veel tot kinderdepressie bydra.

In Suid-Afrika is ’n oorvloed omgewingsfaktore wat tot kinderdepressie kan bydra: egskeiding, gesinskonflik, emosionele en fisieke mishandeling, misdaad, afknouery en armoede.

) Tekens en simptome

Daar is ’n hele reeks tekens wat kan dui op kinderdepressie.

Belsham sê: “Kinders kan geïrriteerd, kwaad en senuagtig wees; hulle ondervind hardnekkige gevoelens van neerslagtigheid en hopeloosheid; hulle is geneig tot onttrekking aan aktiwiteite wat hulle gewoonlik geniet; hulle huil en kry woede-uitbarstings; hulle kla oor pyne soos maagkrampe en hoofpyn; hul vermoë om tuis en by die skool te funksioneer, word belemmer en slaapprobleme kom voor.

“Wanneer jonger kinders depressief is, is hulle meer geneig tot fisieke simptome soos skete en pyne, rusteloosheid en angs as hulle van hul ouers geskei word omdat hulle dalk nie die emosionele instelling en/of uitdrukkingsvermoë het om oor hul emosies te praat nie.”

Dr. Richa Bhatia, ’n adolessente-en-volwassenepsigiater, sê nie al die simptome hoef aanwesig te wees vir ’n diagnose van depressie nie.

Sy sê: “Simptome moet minstens twee weke op die meeste dae voorkom om aan die kriteria daarvoor te voldoen.”

) Behandeling

Belsham sê die opsies vir die behandeling vir kinders is soortgelyk aan dié vir volwassenes.

“Dit sluit in psigoterapie (berading) en medikasie,” sê hy.

“Jou kind se dokter kan eerste psigoterapie voorstel en antidepressant-medikasie as ’n bykomende opsie oorweeg as die simptome ernstig is of as daar nie ’n beduidende verbetering met psigoterapie alleen verkry word nie.

“Die beste studies tot dusver dui aan dat ’n kombinasie van psigo­terapie en medikasie die effektiefste behandelingsmetode is.”

Uitgeskakel

Volgens Bhatia moet ander mediese en psigiatriese toestande wat met depressie ooreenstem – soos ADHD of anemie – eers uitgeskakel word.

Belsham sê vir 4- tot 10-jariges word speelterapie aanbeveel. Vir kids ouer as ses word praatterapie aanbeveel.

Kognitiewe terapie is geskik vir ouer kinders omdat dit kan help om negatiewe emosies en denke met positiewes te vervang.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters