Verlede maand
‘Hulle’s sakkedraers, Rassie!’
Wat nou? Die leser ruik ’n rot wat Rassie Erasmus se keuse van spelers betref.Foto: TWITTER  ~ 

Norman Evertson van Montagu skryf:

Rassie Erasmus, waarom kies jy spelers wat jy voor jou siel weet, jy nie gaan laat speel nie?!

Wat is jou agenda? Wat dink jy van dié spelers? Wat dink jy van die SA rugbygemeenskap?

Vir wie probeer jy gelukkig hou? Wie het vir jou in elk geval gesê om Gio Aplon nóú eers te kies?

Toe Aplon in sy fleur was en voortreflike rugby gespeel het, is hy slegs beperkte geleenthede gegee om sy talent ten toon te stel.

Nou kies jy hom ewe skielik op so ’n gevorderde ouderdom. En steeds laat jy hom nie speel nie. Vir wie probeer jy beïndruk?

En wat Schalk Brits betref, hy hoort nie in die span nie. Finish en klaar. Die man het uitgetree, in hemelsnaam! Hoekom los jy hom nie dat hy kan aangaan met sy lewe en gaan doen wat hy wou doen ná rugby nie?

Dis nie asof die span slegter daaraan toe is sonder hom nie. Jy laat hom tog in elk geval ook nie speel nie. So, wat probeer jy nou bewys deur hom te kies?

En Trevor Nyakane, Sikhumbuzo Notshe en Sergeal Pietersen? Wat is jou storie met hulle?

Is hulle jou transformasie-tokens?

Jy dink seker jy kan die rugby­publiek ’n rat voor die oë draai.

Selfs Louis Schreuder, Ruhan Nel en JD Schickerling wonder seker ook wat hulle nou eintlik in die groep maak. Waarom word spelers dan gekies?

Jy het tog geweet hulle gaan nie gebruik word om te speel nie – dalk vir ander doeleindes, ja.

Ek sal jou sê hoekom hulle in die span is. Jy het sakkedraers nodig gehad, spelers om teen te oefen en jy wou die politici se monde snoer.

Jy beter begin oop kaarte speel en eerlik wees met die mense van Suid-Afrika.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters