Verlede maand
Hou selfvertroue daar bo
soort soek soort: Omring jou met opbouende mense. foto verskaf  ~ 

DIE ouens van die webwerf goeiehuishouding.co.za gee algemene faktore waarop ons ag moet slaan om te verseker dat ons selfvertroue nie vernietig word nie.

Vermy mense wat jou afbreek, eerder as opbou

Die ou vergelyking dat mense óf uitstralers óf dreineerders is, is tog waar.

Uitstralers straal warmte, geesdrif en welwillendheid uit. Daarteenoor is dreineerders negatief en beskou die glas altyd as half leeg.

Uitstralers bring die beste in mense na vore, terwyl dreineerders veel­eisend kan wees en amper nooit iets teruggee nie.

As jy nie die regte goed eet en drink nie

Navorsing toon wanneer dit by ons gemoed en gedrag kom, is ons wat ons eet.

’n Voedsame dieet kan angstigheid help verminder, jou gemoed verbeter en jou help om meer selfversekerd te voel, om nie eens te praat van die ekstra selfvertroue wat saam met gewigsverlies kan kom nie.

’n Dieet propvol suiker en kafeïen kan egter skerp energiestygings, asook gemoedskommelings, veroorsaak en lei tot ’n laagtepunt in hoe jy oor jouself voel.

Liggaamstaal wat sê “ek gee op”

As jy nie selfversekerd voel nie, sit of staan jy dalk gebukkend of ineengedoke. In verskeie studies is al bevind dat ons liggaamstaal ’n invloed het op hoe ons voel.

Vrees kan selfvertroue knou

Vrees is in werklikheid vals bewyse wat werklik voel (“False Evidence Appearing Real”, oftewel FEAR). Met ander woorde, wanneer jy op ’n doelwit afstuur, sal jy dalk vind dat jou onderbewussyn vals bewyse produseer wat soos die werklikheid voel, en dit kan jou maklik van stryk bring.

Stres en druk knou jou selfvertroue

Wanneer ons onder stres of druk verkeer, skop ons veg-of-vlug-meganisme in.

Die Britse Health and Safety Executive (HSE) het “stresstandaarde” gepubliseer wat ses belangrike bronne van stres identifiseer: eise, beheer, ondersteuning, verhoudings, rol en verandering.

Wanneer jy gestres is, kan jy die situasiebeheer deur na dié ses punte te kyk.

Vra jouself: Het ek te veel hooi op my vurk? Het ek genoeg beheer oor wat ek doen? Het ek genoeg ondersteuning om te bereik wat van my verwag word? Het ek ondersteunende verhoudings? Verstaan ek my rolle en verantwoordelikhede? En hoe kan ek verandering beheer? Dit sal jou help om stressors te identifiseer en veranderinge aan te bring om jou te help om minder gedruk en meer selfversekerd en in beheer te voel.

Moenie ander se definisie van geluk najaag nie

As jy iemand anders se idees van geluk op jouself van toepassing maak, kan jy dalk uit die oog verloor wat jóú gelukkig maak en dit kan jou geloof in jouself en jou selfvertroue skaad.

Doen wat jou regtig gelukkig maak. Dit sal jou geaard hou en jou innerlike selfvertroue versterk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters