6 maande gelede
Hou hulle besig
VET PRET: Laat kinders hierdie feestyd lekker buite speel.  ~ istock.com

DIE skoolvakansie het begin en die klôgoed kan jou mos lekker mal maak as hulle so ledig by die huis is.

Hier is ’n paar wenke van die webwerf jougesin.solidariteit.co.za oor hoe om jou kleintjies in die lange Desembervakansie besig te hou.

  • Wees toeriste in julle eie omgewing. ’n Mens is nie altyd bewus van, of waardeer nie altyd al die besienswaardighede in jou tuisdorp of -stad nie. Gaan soek op die internet vir interessante plekke in julle omgewing of in omliggende dorpe of stede soos museums, botaniese tuine, piekniekplekke, of eetplekke waar julle nog nie voorheen was nie. Indien moontlik, ry met ’n bus of trein in plaas van met julle motor.
  • ’n Tikkie drama: Pak van jou ou klere, skoene, juwele en grimering uit. Vra vir Ouma en Oupa vir skenkings. Laat die kinders vrye teuels aan hulle verbeelding gee of volgens ’n tema aantrek. Dit kan selfs op ’n konsert of rolspel uitloop. As jy kans sien vir soveel kinders in en om jou huis, laat jou kinders maats oornooi om in die pret te deel.
  • Bak-en-brou is veral op ’n reënerige dag die ideale tydverdryf. Hou die ouderdom en vaardigheidsvlakke van die kinders in gedagte. Jonger kinders kan help bestanddele byvoeg, beslag roer, of koekiedeeg in vormpies druk. Laat ouer kinders gerus toe om voedselverwerkers en handklitsers te hanteer. As hulle al kan lees, gee vir hulle ’n eenvoudige resep, soos een vir soetkoekies, en laat hulle alles self doen.
  • Wees kreatief: Maak seker dat daar genoeg gekleurde karton, inkleurpotlode, kleurpenne, verf, gom, krale, knope, lyn, lint en houtstokkies in die huis is. Daar is geen perke aan idees vir dinge wat kinders van alle ouderdomme kan maak nie: boekmerke, papierblomme, papierpoppe, eenvoudige juwele met ingerygde krale, ’n gevlegte vriendskapsbandjie, ’n stel skryfbehoeftes, versierde wasgoedpennetjies, geskenkpapier. Maak julle eie klei en verf waarmee die kinders pragtige geskenkies kan maak.
  • Doen iets vir ander: Leer jou kinders dat mense mekaar nodig het en dat dit ander mense gelukkig maak as jy vir hulle iets gee of iets goeds doen. Besoek ’n ouetehuis of kinderhuis (daar is altyd bejaardes wat nooit besoekers ontvang nie, of kinders wat nie vir die vakansie weggaan nie). Neem van die lekkernye of geskenkies wat julle self gemaak het saam. Besoek julle plaaslike Dierebeskermingsvereniging (SPCA) en laat die kinders sien wat alles daar gebeur. Dalk kan hulle met van die diere speel.
  • Benut tegnologie: Al probeer ’n mens jou kinders soveel moontlik van tegnologie weghou, is dit tog soms ’n uitkoms. Neem ouderdomstoepaslike DVD’s uit, gooi ’n slaapsak en kussings op die vloer, gee vir hulle ’n bak springmielies en laat die kinders hulle vir ’n middag of aand knus voor die TV tuis maak.
  • Hou piekniek of kampeer op julle erf.
  • Swem in julle eie swembad of, as waterbeperkings in julle omgewing nie te streng is nie, stel die tuinslang met watersprinkelaar op vir ’n bietjie waterpret.
  • Speel bordspeletjies.
  • Laat die kinders ’n plakboek maak van al die vakansie-aktiwiteite. Ouer kinders kan self oor hulle wedervaringe skryf, poskaarte en pamflette en toegangskaartjies van die plekke wat julle besoek het daarin plak en elke dag se aktiwiteite byskryf of teken.
  • Laat die kinders help om die Kersboom te versier en geskenke toe te draai.
  • Doen nou alles wat gedurende die kwartaal agterweë gebly het. Begin eers met die minder aangename take. Maak skool- en sportsakke leeg en maak hulle skoon. Koop nou reeds nuwe skryfbehoeftes vir volgende jaar, merk dit en pak dit in. Sorteer klere, gooi uit wat julle wil herwin, herstel of skenk en pak julle kaste en laaie reg. Sorteer ou speelgoed en besluit wat julle kan herstel of skenk en pak die speelgoedkas reg. Hou peuselgoedjies byderhand en speel hulle gunstelingmusiek. Of maak dit sommer net ’n aangename kuier- en geselstyd.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters