Verlede maand
Hoë druk in aar dalk 'n gevaar
BELANGRIK: Jy moet gereeld jou bloeddruk laat toets.  ~ istockphoto

HIPERTENSIE, oftewel hoë bloeddruk, is ’n algemene chroniese toestand waaraan sowat 1,3 miljard mense wêreldwyd ly.

Die apteker en dieetpionier Gert Coetzee verduidelik wat hierdie chroniese toestand veroorsaak en wat lyers in gedagte moet hou.

Hoë bloeddruk is ’n langdurige styging van die druk in die are.

Die toestand word by ’n mens gediagnoseer wanneer jou gemiddelde bloeddruk hoër as 140/90 is. ’n “Normale” bloeddruk is 120/80, hoewel ouderdom dit beïnvloed.

Lewensgevaarlik

Mense met hipertensie loop ’n groot risiko om hartsiektes, beroertes, nier- en selfs oogsiektes te kry.

Hipertensie kan veroorsaak dat ’n aar bars of ’n blokkasie daarin vorm. Dít kan keer dat bloed en suurstof die brein bereik, wat lewensgevaarlik is.

Navorsing toon een uit vier mans en een uit vyf vroue het hoë bloeddruk.

Die algemeenste soorte is:

  • Primêre hipertensie

Dié soort hoë bloeddruk kom die meeste voor. Dit neem gewoonlik maande of selfs jare om te ontwikkel.

Dit word veroorsaak deur faktore in jou leefstyl en omgewing en veranderinge aan die liggaam.

  • Sekondêre hiper­tensie

Dit is wanneer ’n ander gesondheidsprobleem – dalk iets soos ’n nierkwaal, slaap-apnee of ’n wanfunksionele skildklier – die bloeddruk laat styg.

Sommige hipertensielyers ondervind simptome, soos kopsere, bloedneus, kortasemheid, duiseligheid, moegheid, naarheid, verwarring, angstigheid, bors­pyne en bewerasies.

Hoë bloeddruk word gereeld die “silent killer” genoem, want baie mense met dié toestand ondervind glad geen simptome nie.

Dis hoekom dit belangrik is dat jy gereeld jou bloeddruk laat toets – veral nou in die tyd van Covid-19.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters