2 maande gelede
Hidrasie is belangrik
BESKERM JOU EYES: Dra ’n sonbril wanneer jy buite is.  ~ iStockphoto

AL LYK en voel dit nie tans so nie, is die somer hier en ek het ’n paar wenke gaan soek op die webwerf intiem.co.zaom jou gesond, sexy en vol energie vir die somer te kry.

  • Water, water en nóg water!

Jou liggaam bestaan grootliks uit water en daarom is dit nodig om genoeg water in die somer te drink sodat jy nie dehidreer nie. Dit help onder meer om daai lastige kopseer die hasepad te laat kies en dit was gifstowwe uit jou liggaam. Werk vir jou ’n waterprogram uit, byvoorbeeld: Drink ’n glas water wanneer jy opstaan, dan weer 10:00, met middagete, teetyd, voor aandete en wanneer jy gaan slaap.

  • Eet reg vir energie. Beperk jou inname van vet en suiker en kies eerder koolhidrate, vrugte en groente. Pak ’n appel pleks van ’n pakkie biltong vir ’n happie by die werk.
  • Begin die dag met ontbyt.

Ja, dié deuntjie is al ’n bietjie afgesaag, maar daar is ’n rede daarvoor – dit werk! Ná ’n lang nag se slaap is dit belangrik om jou liggaam weer aan die gang te kry. Probeer volgraanbrood met grond­boontjiebotter op, jogurt met vrugte, kaas op roosterbrood en vrugte op graankos vir ’n voedsame ontbyt.

  • Slaap genoeg.

Nie net wanneer jy op verlof is nie, maar maak dit ’n algemene reël. Sewe tot ag uur per nag behoort jou genoeg energie te gee om produktief deur die hitte van die somerdae te kan werk.

  • Koel klere.

Dra ligte, lospassende uitrustings om jou te help om koeler te bly. Bêre sommer ál jou donker klere weg vir die winter sodat daar net ligte items in jou kas hang. As jy ’n katoenbroek kry wat lig is en mooi sit, koop sommer drie in verskillende kleure.

  • Beskerm jou oë.

Wanneer jy buite is of bestuur, dra dan ’n sonbril om jou oë teen die skadelike UV-strale van die son te beskerm. Koop ’n paar sonbrille. Sit een in jou handsak, een in jou kar, een by die huis, een by die werk, ensovoorts, om te verseker dat jy altyd een byderhand het.

  • Blok die son. Gebruik ’n sonbrandmiddel daa­gliks (veral op jou gesig) om jou vel teen sonbrand te beskerm. Dit sal jou ’n jonger voorkoms vir langer gee en die pyn spaar om van ’n seer, gebrande vel ontslae te moet raak.
  • Versorg jou hare. Son, hitte, humiditeit en chloor beskadig jou hare. Dit word droog en bros. Moenie te lank buite bly nie en gebruik haarprodukte wat sonbeskerming in het. Moenie te veel bleikmiddels in die somer gebruik nie. Versorg en beskerm gekleurde hare ekstra goed. Maak jou hare nat voordat jy gaan swem – dit absorbeer dan minder swembad-chloor.
  • ’n Bord vol kleur. Wanneer jy ’n verskeidenheid groente en vrugte eet, help dit dat jy voedingstowwe inneem wat jou teen allerhande kwale beskerm. Hou dié gebruik sommer reg deur die jaar vol deur elke week byvoorbeeld drie soorte groente of vrugte met verskillende kleure te koop.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters