Verlede maand
Geurige geskenk
spuit-spuit: Parfuum is ’n perfekte geskenk vir Krismis. foto’s verskaf  ~ 

AS JY die perfekte Krismis­geskenk vir jou suster, dogter, vrou of meisie wil koop, kan jy nooit verkeerd wees met ’n bottel lekkerruikgoed nie.

Ons het ’n paar nice wenke gekry op die webwerf goeiehuishouding. co.za oor hoe om die perfekte bottel parfuum vir jou geliefde te koop.

Wat’s haar styl?

Persoonlike styl is dikwels ’n aanduiding van die tipe geure waarvan iemand sal hou. As sy byvoorbeeld van vroulike klere met valletjies hou, sal sy dalk blom- of poeiergeure verkies. Iemand met ’n meer Boheemse styl sal dalk van spesery- of muskusgeure hou.

Raak persoonlik.

Baie mense dink dat parfuum ’n té persoonlike geskenk is, want dis moeilik om presies te weet waarvan iemand sal hou. Dit is dalk waar, maar pleks van om die idee te laat vaar en iets anders te kies, kan jy ’n fyngeurgeskenk nóg persoonliker maak deur die persoon se naam op die bottel te laat graveer.

Kleiner is soms beter.

Gelukkig word parfuums nie net in groot bottels teen hoë pryse verkoop nie. Vandag kan ’n mens gewoonlik uit ’n paar groottes kies. Dit is nie net wonderlik vir jou beursie nie, maar beteken ook dat die ontvanger nie te oorweldig sal voel as sy nie dol oor die geur is nie.

Wat van ’n stel parfuummonsters?

Nog iets wat jy vir iemand spesiaals vir Krismis kan gee, is die geleentheid om self te kies. Baie afdelings- en skoonheidswinkels verkoop deesdae stelletjies met ’n paar monsters van verskillende gewilde parfuums. Dit sal die ontvanger meer opsies gee en wie weet – dalk ontdek sy ’n nuwe gunsteling danksy jóú!

Probeer ’n geur-alternatief.

Geure hoef nie net in die vorm van parfuum gegee te word nie. Daar is verskeie handelsmerke wat ook gegeurde kerse in hulle gewildste geure verkoop. Dit kan ’n minder intimiderende geskenk wees, maar steeds betekenisvol en persoonlik. En as die ontvanger dol is oor die geur, kan sy haarself met die ware Jakob bederf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters