Verlede maand
Gebou om te hou
DINK MOOI: Vir kleiner takies is dit wys om die moue op te rol en die werk self te doen.  ~ istockphoto

OM ’N huis te koop is ’n helse saak.

Banke is maar traag om groot lenings aan voornemende kopers toe te staan.

Een van jou opsies is om ’n ouer eiendom te koop wat ’n bietjie liefde en aandag nodig het.

Sulke eiendomme kan dikwels teen afslagpryse bekom word en die werk om hulle weer aanvaarbaar te maak, sal nie die bank (of jou rug!) breek nie.

In ander gevalle is dit egter beter om ’n wye draai om twyfelagtige winskopies te loop.

Dit is waarom dit kritiek is om die verskil te ken tussen groot potensiaal en groot probleme. Moenie dat drome en opgewondenheid jou verblind nie.

Hier is ’n paar wenke van finansies.solidariteit.co.za oor hoe om te werk te gaan:

Eerstens, doen ’n bestekopname van die werk wat vereis word om die eiendom te omskep in iets wat woonbaar of selfs perfek is.

Paul Stevens, CEO van Just Property, sê die eerste ding waaroor jy moet besluit, is of jy die taak self sal kan baasraak.

Groot herstelwerk is nie vir sissies nie, veral as jy dit self wil doen. Vra jouself die volgende:

  • Kan ek met ’n gemors saamleef wat ’n jaar of langer kan voortduur, afhangend van die werk wat vereis word?
  • Is ek bekwaam genoeg om die uitdaging te aanvaar? Indien nie, kan ek die professionele mense bekostig wat ek gaan benodig om my afgetakelde eiendom te omskep in die droomhuis wat ek my voorstel?”

Fundamenteel versus kosmeties

Jy moet onderskei tussen fundamentele foute en kosmetiese swakhede.

Die eerste is onmoontlik of moeilik om reg te stel terwyl die tweede maklik en goedkoop reggemaak kan word.

Om byvoorbeeld ’n huis in ’n ongewenste omgewing te koop, is altyd problematies. Soek dus eiendom in ’n veilige, skoon en stil omgewing.

Oorweeg daarbenewens die uitleg en struktuur van die huis. Om nog vertrekke aan te bou of die struktuur heeltemal te omskep, is duur en veeleisend.

John Graham van housecheck.co.za lys 10 dinge om te bekyk wanneer jy ’n eiendom as koper besigtig: 1. Swak dreinering (stormwatervloei, geute en afvloeipype, vog); 2. foutiewe elektriese, loodgieters- en gas­installerings; 3. lekkende dak; 4. defektiewe isolasie; 5. swak instandhouding; 6. strukturele skade; 7. waterskade; 8. tekens van houtvretende insekte of fun­gi; 9. swak ventilasie en 10. gevaarlike materiale

Gaan jy dit self doen of ’n kontrakteur aanstel?

Vir kleiner takies is dit wys om die moue op te rol en die werk self te doen.

Dit word egter nie aanbeveel vir ingewikkelder take nie, maar jy kan ’n bietjie van albei doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters