3 maande gelede
G is vir gesond
goor: Doen nóú stappe om te verseker dat jy nie las van ’n loopneus kry nie.foto’s verskaf  ~ 

DIE winter is om die draai en dis nóú al tyd dat jy jou en jou familie­ reg kry vir die koue sodat julle hopelik nie met verkoue en griep besmet word nie.

Op welstand.solidariteit.co.za is ’n lys maatreëls wat jy kan volg om te verseker dat jy nie las van ’n loopneus kry nie.

Eet gesond

Wanneer dit koud is, is die versoeking groot om stysel en soetgoed te eet, pleks van vrugte en groente.

Sitrusvrugte – lemoene, nartjies, suurlemoene – dra by daartoe om die verkoue- en griepvirus te beveg.

Eet ook kosse wat ryk is aan antioksidante, soos patat, wortel, pampoen, papaja, vis, broccoli en hoender.

Probeer om dié kosse in hulle natuurlikste vorm te eet, want geblikte of verwerkte kosse het min voedingswaarde.

Leef gesond

Leer jou bloedjies om gereeld hulle hande met seep te was. Maak seker daar is seep by jou kind se kleuterskool en dié se waslappe is skoon en kiemvry.

In die algemeen moet jy:

  • jou hande gereeld was en ’n ontsmettende handreiniger gebruik;
  • nie aan oppervlaktes in open­bare plekke vat nie, byvoorbeeld deurhandvatsels;
  • nie rook nie;
  • tissues voor jou neus en mond hou wanneer jy nies en hoes, en gebruik hulle net een keer! Was jou hande agterna;
  • gereeld oefen om jou immuniteit in stand te hou en siektes soos vetsug en diabetes te voorkom;
  • vitamiene-aanvullings inneem, veral A en C, wat beskerming bied teen siektes.

Daar is heelwat multi­vitamien-aanvullings op die mark. Aanvullings behoort met ontbyt ingeneem te word.

Wanneer jy moeg is, is dit jou liggaam wat sê hy of sy kort rus of slaap. ’n Behoorlike nagrus van ag uur kan jou immuniteitstelsel ’n stewige hupstoot bied.

Maak seker jy drink genoeg vloeistowwe dié winter, veral water. Sap en rooibostee is ook gesond.

Vermy kafeïen­ (koffie, ens.), want dit dra by tot ontwatering.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters