18 dae gelede
Finansiële dissipline is vryheid
SORGVRY: Beoordeel jou geldelike status objektief.  ~ iStockPhoto

AL IS jy getroud of jy het ’n partner in jou lewe, is dit baie lekker om so onafhanklik moontlik van die ander persoon te wees.

Die geld-ghoeroe Mary Waring deel 10 wenke vir vroue om finansieel onafhanklik te wees.

Dié wenke kom uit Mary se boek The Wealthy Woman – a Man is Not a Financial Plan.

1 Vergeet van die gesegde “fake it till you make it”. Voordat jy jouself beloon met namelekker goodies moet jy eers die geld werklik verdien het. Bevrediging in die korttermyn lei op die duur net tot finansiële verdriet.

2 Begin op ’n vroeë ouderdom spaar. Vriende kom en gaan, maar jou beste vriend is saamgestelde rente.

3 Weet hoeveel jy werd is. Weet wat op jou bankstate staan en wat jou bates is. Jy moet jou geldelike status objektief beoordeel – die bates én die skuld.

4 Volg die SMART-beginsel. Só werk dit:

S – Spesifiek. Weet presies met hoeveel geld jy jou welvaart wil vermeerder.

M – Meetbaar. Hou jou begroting goed dop – weet waarvandaan geld kom en waarheen dit verdwyn.

A – Attainable. Moenie onrealisties wees oor wat jy kan vermag nie.

R – Relevant. Kies waarvoor jy spaar – vir ’n huis of daardie Louis Vuitton-handsak.

T – Tyd. Stel vir jouself ’n teikendatum teen wanneer jy jou geldelike doelwitte wil bereik.

5 ’n Man is nie ’n finan­siële plan nie. Jy kan nie daarop reken dat jou eggenoot genoeg geld gaan verdien nie. En wat gebeur as hy sterf of julle skei?

6 Kry inligting. Leer meer oor geld, praat met finan­siële raadgewers en leer oor banke se spaarplanne.

7 Onthou, klein besparings word groot besparings. Spaar eerder ’n klein bedrag gereeld – dit bou darem ’n lekker neseier.

8 Hou dagboek van jou uitgawes. Net soos mense wat probeer gewig verloor ’n dagboek hou van hul dieet, spaar mense met ’n geld-dagboek meer.

9 Plastiek is nie altyd die antwoord nie. Pasop om sommer net jou kredietkaart uit te ruk. Studies het gewys jy bestee twee keer meer as wat jy sou wanneer jy kontant betaal.

10 Jy moet altyd ’n rainy day-fonds hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters