Verlede maand
Druk op meisies
STERK VROUE: Dis belangrik dat ouers hulle dogters van kleins af leer hoe om vir hulleself op te staan.FOTO VERSKAF  ~ 

OM MEISIES in dié bose wêreld groot te maak, is ’n massiewe taak.

Die druk op vroue is so groot dat jy jou kleintjie al van kleins af moet leer om sterk te wees en vir haarself op te staan.

Norme

Die webwerf jougesin.solidariteit.co.za meen die toenemende invloed van sosiale media plaas geweldige druk op kinders.

Onderlinge mededinging en die verandering van seksuele norme speel ook ’n rol daarin.

En dis soms baie erger vir meisies, sê die Amerikaanse skrywer en sielkundige Lisa Damour aan die webwerf.

Dink maar aan die wêreld se verkrampte beskouing van wat skoonheid is en die vooroordele oor die vermoëns van die vroulike geslag. Daar is boonop druk om seksueel aktief te raak voordat hulle daarvoor gereed is.

As ouer moet jy dié magte probeer begryp sodat jy jou meisiekind – ter wille van haar geestesgesondheid – kan help toerus sodat sy haar beste, afgeronde self kan word.

Meisies word gereeld geraak deur subtiele en minder subtiele boodskappe om te glo hulle rol in die lewe is om ander tevrede te stel en om perfek te probeer wees.

“Dit lei nie net tot angs en ander geestesgesondheidsprobleme nie, dit speel ook ’n rol in die ontwapening van meisies en vroue,” verduidelik Damour.

Van jongs af kry hulle al die boodskap dat daar van hulle verwag word om altyd gaaf te wees, saam te werk en ander se behoeftes tot elke prys in ag te neem.

Dít alles om goedkeuring te verkry van die gesin en die gemeenskap waarin hulle grootword. Dit verwar jong meisies. Hulle sukkel ook om te bepaal hoe hulle altyd daar moet wees vir ander terwyl hulle terselfdertyd na hulleself moet omsien.

Meisies wat opstaan vir hulleself en soms nee sê, word meermale as onbedagsaam beskou. Daarom stem hulle dikwels maar liewer in.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters