Verlede maand
Dril kennis in by kids
noodsaaklik: Leer jou kinders dat hulle heeltyd ’n masker moet dra.Foto’s: istockphoto  ~ 

DIE departement van basiese onderwys het aangekondig dis tyd dat sommige kinders teruggaan skool toe.

En hoewel jou kinders reeds van die corona-virus gehoor het, sal dit wys van jou wees om weer saam met hulle hieroor te praat.

Dis om seker te maak hulle weet wat die virus behels, wat die simptome is, hoe om higiënies te wees, asook hoe om hulself te beskerm.

Die werklikheid is dat hulle nie meer in die veiligheid van jou huis is nie en jy moet hulle hiervoor voorberei.

Hier is raad vir ouers van af.inner self.­com om ons en ons kinders op die hoogte van sake te hou.

Een manier om ons kinders in onseker tye gerus te stel is met feite.

Die nuwe corona-virus, Sars-CoV-2, veroorsaak coronavirus disease (Covid-19). Dit kan soos ’n gewone verkoue wees, maar dit kan ook ernstige komplikasies hê. Jy kan jou kind byvoorbeeld verseker dat die bewyse tot dusver getoon het dat kinders met die virus minder geneig is tot erge simptome as volwassenes.

Tekens van besmetting kan insluit koors, hoes en kortasem. Ernstiger gevalle kan longontsteking en nierversaking behels. Dit kan selfs noodlottig wees.

Beoefen goeie higiëne

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê ons moet ons besorgdheid oor goeie higiëne kanaliseer.

Leer jou kinders om hul hande gereeld met seep en water te was (veral nadat hulle die toilet gebruik het, van ’n openbare plek terugkeer en voor en ná ete.)

Hulle moet ook ’n sakdoek of snesie gebruik wanneer hulle nies.

As hulle ’n snesie gebruik het, moet hulle dit onmiddellik in ’n vullisblik gooi.

Dit is ook noodsaaklik dat die kinders ’n masker dra.

Leer hulle om dit nie af te haal nie, maak nie saak hoe ongemaklik die dra van die masker word nie.

Laat hulle ook verstaan dat hulle nie meer links en regs skryfbehoeftes kan uitdeel of leen nie.

Bly by die feite

Raadpleeg betroubare bronne om jouself oor Covid-19 in te lig.

Filtreer sommige van die verkeerde inligting oor die voorkoming van Covid-19 (soos dat knoffel eet en ’n warm bad help) en stel jou gesin in kennis van die regte inligting.

Moenie iemand wees wat verkeerde inligting aan jou kinders of ander deurgee nie.

Praat oor jou gevoelens

Dit is oukei om bekommerd te voel. Praat oor jou stresgevoelens; dit kan jou help om daardeur te werk.

As jy jou stresgevoelens probeer onderdruk, kan dit jou gesondheid affekteer.

As ouer hoef jy net na jou kind se bekommernisse te luister; jy kan nie belowe dat dinge veilig of seker sal wees nie.

Jy kan hulle egter verseker dat julle as gesin sal saamwerk om alles te bestuur wat in die toekoms opduik en dat jy daar is om na hulle te luister.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters