Verlede maand
Doodsake is duur
maak seker: Moenie jou naasbestaandes met skuld en uitgawes agterlaat nie. foto verskaf  ~ 

BAIE mense het nie begrafnis­polisse nie, en wanneer hulle sterf, sit hulle naasbestaandes gewoonlik met ’n hoop skuld.

Ons het wenke aanlyn by finansies.solidariteit.co.za gevind oor dié onder­werp.

Wanneer is die regte tyd om ’n begrafnispolis uit te neem?

Die ideale tyd om ’n polis uit te neem, is sodra jy ’n inkomste begin verdien.

Dit is nooit te vroeg om voorsiening te maak nie.

Een voordeel daarvan is dat sommige be­grafnis­polisse gewoonlik ná ’n sekere­ tyd opbetaal is. Jy betaal dus nie daaraan so lank as wat jy leef nie.

Wie behoort ’n be­grafnis­polis uit te neem?

Vir iemand wat getroud is en ’n gesin het, is dit éérs noodsaaklik om ’n begrafnispolis te hê wat die hele gesin dek.

’n Mens kan selfs vir jou uitgebreide familie (ouers en skoonouers) en huiswerker voorsiening maak.

In die meeste gevalle kan ’n mens ’n begrafnispolis uitneem tot wanneer jy 65 is. As jy ouer as dit is, geld daar sekere voorwaardes.

Waarom ’n begrafnispolis?

Wanneer ’n geliefde sterf, dien dit die naasbestaandes in dié tyd van rou om ordentlik en waardig afskeid te neem van die oorledene.

Die herinneringe en verlange sal die naasbestaandes nog lank bybly, maar dit bied hulle tog die geleentheid vir afsluiting.

’n Behoorlike en waardige begrafnis is immers deel van die rouproses.

’n Begrafnispolis se premie is gewoonlik betreklik laag. Dis maklik om selfs in tye van finansiële nood die premie tog nog te betaal om te voorkom dat dit verval.

Uitbetaling.

’n Begrafnispolis word gewoonlik binne 48 uur ná kennisgewing van afsterwe en die ontvangs van die nodige dokumente in die begunstigde se bankrekening in­betaal.

Dit verseker dat begrafnisreëlings gou getref kan word sodat die proses nie onnodig uitgerek word nie.

Met ’n begrafnispolis word die naasbestaandes in dié tyd van skok en rou die stres van onsekerheid oor geldsake gespaar.

Die geld is gewoonlik gou beskikbaar en dis gewoonlik ook genoeg om in onmiddellike behoeftes te voorsien.

’n Begrafnispolis bied gewoonlik ook genoeg geld om álle begrafnisverwante uit­gawes te dek.

En dit kan nogal heelwat wees wanneer ’n mens besef dit involve ’n kis, grafsteen of gedenkplaat, blomme, begrafnis­briewe, die predikant of pastoor en selfs ’n ete agterna.

Sommige polisse dek ook die vervoer van die oorskot na die oorledene se tuisplek as hy of sy elders gesterf het.

Voortgesette uitgawes. Sommige begrafnispolisse bied boonop ’n vaste inkomste per maand vir ’n paar maande nadat ’n broodwinner afgesterf het.

Dit kan bestee word aan noodsaaklike uitgawes soos kos, verblyf en ander noodsaaklikhede totdat die boedel afgehandel is.

Ál die reëlings word deur die begrafnisondernemer getref. Die naasbestaandes hoef net insette te lewer oor spesifieke persoonlike voorkeure.

As jy dus nog nie ’n begrafnis­polis het nie, oorweeg dit ernstig om so gou moontlik een uit te neem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters