2 maande gelede
Doen jou make-up maklik
Staan uit: Dis tyd om helder lippe soos Solange Knowles te dra. foto’s verskaf  ~ 

DIE koue winter is amper verby en ons gaan ’n bietjie makliker opstaan.

Ons gaan ook tyd maak om ons gesiggies soggens in te kleur.

Hier is goeiehuishouding.co.za se top-wenke oor hoe om make-up vinnig en maklik aan te sit.

  • Keer dat jou onderlaag smelt deur poeier ná jou basislaag, maar voor jou onderlaag, aan te wend. Dit sal jou grimering laat aanbly.
  • As jy ’n foto van naby laat neem, gebruik afwaartse hale met die onderlaagkwas om fyn haartjies op jou gesig te laat platlê.
  • Moet nooit ’n droë onderlaagsponsie, oftewel beauty blender, gebruik nie omdat dit jou onderlaag sal trek en streperig sal laat lyk.

Maak jou sponsie deeglik nat en druk dan die oortollige water uit. Jou onderlaag sal gladder aanwend en vir langer douvars lyk.

  • Laat pas maar altyd die skakering van jou onderlaag­ by die velkleur van jou nek en kakebeen om die beste kleur vir jou te vind.

Moet nooit jou ooglid styf trek wanneer jy oogomlyner aanwend en ’n wing teken nie. Dit veroorsaak nie net plooie nie, maar die vorm van die lyntjie sal anders lyk sodra jy jou ooglid los.

  • Voeg ’n paar druppels kontaklens­oplossing of oogdruppels by uitgedroogde, klonterige maskara om dit meer vloeibaar te maak. As jou maskara ouer as ses maande is en ’n sterk reuk ontwikkel, is dit moontlik tyd om dit te vervang.
  • Gee ou lipstiffie met ’n glansende afwerking ’n nuwe afwerking deur ’n sneesdoekie bo-oor jou lippe te plaas en los poeier bo-oor aan te wend. Die glansafwerking sal in ’n matte-afwerking omskep word. Dieselfde kleur, maar ’n nuwe formule!
  • Kry ’n natuurliker gloed deur ’n helder koraalpienk roomblosser onder jou onderlaag aan te wend. Soos wat jy die onderlaag bo-oor die roomblosser skakeer, sal jy ’n natuurlike, naatlose blos skep.

En onthou dis byna lente, so jy mag maar bos gaan met daai helder lipstiffie soos coral, rooi en pienk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters