Verlede maand
Dít kan nie wag
JONGES: Dis belangrik om ’n testament op te stel en lewensversekering uit te neem.  ~ istockphoto

WANNEER ’n mens jonk is, voel dit asof jy eindelose tyd en energie tot jou beskikking het. Siekte en dood is gebeure waaraan jy selde dink. En só beland dit heel onderaan jou lys prioriteite.

Behalwe aansluiting by ’n mediese en pensioenfonds (wat dikwels deel van ’n werkgewer se vergoedingspakket vorm), is jong werkendes geneig om enige verdere finansiële beplanning uit te stel tot wanneer hulle ouer is, berig die webwerf finansies.solidariteit. co.za.

“In werklikheid sal dit jong mense baat om so gou moontlik te begin voorsiening tref vir die toekoms,” sê Danelle van Heerde, Sanlam se hoof van adviesprosesse en hulpmiddels, aan die webwerf.

Sy deel haar voorstelle oor belangrike finansiële besluite wat jy moet oorweeg terwyl jy nog jonk is:

  • Stel ’n testament op en neem lewensversekering uit.

Volgens Van Heerde los jong mense dié twee kritieke finansiële oorwegings dikwels vir later. Jong mense voel mos bulletproof en hulle dink daar’s baie tyd.

Maar die realiteit van die lewe vertel ’n ander verhaal.

Om ’n testament as ’n onnodige administratiewe oefening te beskou of die uitneem van lewensversekering vir later te los, kan jou duur te staan kom.

Dis g’n verskoning om te sê jy het nie veel nie.

Enigiemand wat bates besit of skuld het (ongeag hoeveel), moet ’n testament hê. As jy sonder ’n testament sterf, sal jy geen sê hê oor hoe jou bates verdeel moet word nie en ook nie hoe jou skuld (as jy ’n motor of enige eiendom besit) bestuur moet word nie.

Om sonder lewensversekering te sterf, kan beteken dat jou gesin finansieel gaan swaarkry, veral as jy die broodwinner is en daar kinders is om in ag te neem.

Lewensdekking wat op ’n jonger ouderdom uitgeneem word, beteken laer premies en minder uitsluitings, verduidelik Van Heerde.

  • Neem inkomstebe­skerming uit.

Jong mense in hulle 20’s en vroeë 30’s voel dikwels onoorwinlik. Tog is inkomstebeskerming iets waaraan juis dán ernstige aandag gegee moet word, waarsku Van Heerde.

“Die grootste enkele risiko vir enige jong werkende is die onvermoë om inkomste te verdien.”

Wat gaan jy doen as jy op 25 – met meer as 40 jaar van werk wat nog sou voorlê – permanent ongeskik raak vir werk en skielik nie meer ’n inkomste kan verdien nie?

Voeg studielenings, enige ander skuld, jou huwelik en kinders by dié scenario, en die belangrikheid van dekking om jou inkomste te beskerm, word duidelik.

As jy voldoende dekking het en jy verloor die vermoë om inkomste te verdien, tree jou voordele outomaties in werking en jy ontvang ’n maandelikse bedrag of ’n enkelbedrag wat jou sal toelaat om op jou liggaamlike en emosionele welstand te fokus.

  • Maak seker dat jy die nodige dekking teen siekte het.

Dis ewe belangrik dat jy as jong mens seker maak jy en jou gesin geniet beskerming, net ingeval jy ’n ern­stige siekte opdoen en ’n tyd lank nie kan werk nie.

As jy die talle ernstige siektes in oorweging neem en weet dat jy byvoorbeeld ’n familiegeskiedenis van kanker het, is dit die moeite werd om vroeër eerder as later in voldoende siektedekking te belê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters