28 dae gelede
Dít kan jou lewe change
Pumeza Solani  ~ Foto Verskaf

FEBRUARIE is Gesonde Leefstyl-maand in Suid-Afrika.

Dis ’n jaarlikse herinnering om gesonder te leef.

Om mense in te lig en hulle gesonde keuses te help maak, het die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en sy gewaardeerde vennote die Wes-Kaap oor Welstand/Western Cape on Wellness (WoW!) Gesonde Leefstyl-program geïmplementeer.

LEER

WoW! streef daarna om die voorkoms van chroniese siektes soos diabetes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, hartprobleme, beroertes en sekere kankers te verminder.

Dit wil die bestuur van dié toestande verbeter en ook geestesprobleme die stryd aansê.

Chroniese siektes tref volwassenes en kinders. Dis ’n ernstige probleem in Suid-Afrika, maar baie daarvan kan deur ’n gesonde leefstyl voorkom word.

As jy gesonde gewoontes kweek, jouself oppas en so gesond moontlik bly, kan dit help keer dat jy ’n chroniese siekte of ander gesondheidsprobleme kry.

’n Gesonde persoon oefen byvoorbeeld gereeld, eet gesond en geniet gesonde drankies. Hy probeer ’n gesonde gewig handhaaf, gebruik alkohol oordeelkundig en vermy sigarette en ander tabakprodukte.

’n Gesonde persoon weet ook hoe om stres te bestuur en slaap elke nag goed.

Prioriteite

’n Mens kan maklik oorweldig voel in ’n wêreld vol eise en prioriteite.

Die goeie nuus is dat jy nie eensklaps jou hele lewe hoef te verander nie.

Inteendeel, die sleutel tot ’n gesonde leefstyl is om met klein veranderings te begin.

Stap byvoorbeeld meer, drink ’n ekstra glas water en eet meer vrugte en groente. Jy kan vandag reeds iets doen om gesonder en langer te lewe.

LEEF

Goeie gesondheid is nie iets wat jy kan koop nie. Dit kan wel bepaal word deur jou keuses.

As jy tabakprodukte (ook die okkapyp) en dwelms vermy en alkohol verantwoordelik gebruik, verlaag jy jou risiko vir hartsiektes, diabetes, beroertes, en long- en ander soorte kanker.

Jy sal ook nie verslawende gewoontes aanleer wat jou fisieke en geestesgesondheid en dié van jou gesin, familie en gemeenskap in die gedrang kan bring nie.

EET

Gesonde eetgewoontes is nog ’n belangrike deel van ’n gesonde leefstyl.

Dit gaan oor die soorte kos wat ons kies om te eet en hoe ons dit berei, asook die drankies wat ons geniet.

Dis belangrik om elke dag baie water te drink, baie vars groente en vrugte te eet, minder bygevoegde suiker en sout in te neem en net op spesiale geleenthede kitskos te eet.

Dié keuses het ’n regstreekse invloed op jou gewig, gesondheid en lewensgehalte.

Jou ouderdom, liggaamsmassa en lengte bepaal hoeveel jy moet weeg.

As jy gesond wil bly, moet jy ’n gesonde gewig handhaaf deur gesond te eet en fisiek aktief te wees.

SPEEL

Aktief wees beteken jy gebruik jou spiere en energie om jou liggaam te beweeg.

Gereelde fisieke aktiwiteit bevorder jou fisieke en geestesgesondheid en help jou gewig in toom hou.

Oefening help jou ook om jou stresvlak te bestuur en beter te slaap. Dit help ook om op te hou rook.

En nie net gee dit jou meer krag en energie nie, dis pret en kan boonop gratis wees!

Almal, ook mense wat reeds aan chroniese siektes ly, trek voordeel daaruit om fisiek aktief te wees.

Daar is baie verskonings om dit nie te doen nie – jy is te besig, weet nie waar om te begin nie, jy is nie gemotiveerd nie of kan nie ’n gimnasium bekostig nie.

Onthou, énige tipe en duur van beweging is goed vir jou gesondheid!

Geniet

Om byvoorbeeld gereeld te stap, te dans, in die tuin te werk, met die kinders te speel en die trappe in plaas van die hysbak te gebruik is alles vorms van fisieke aktiwiteit wat gesondheid bevorder.

Jy hoef nie gim toe te gaan nie. Kies net ’n fisieke aktiwiteit wat jy geniet!

Om ’n gesonde leefstyl te handhaaf, beteken nie jy hoef drasties te verander nie.

Klein veranderings in hoe jy lewe kan soos ’n stadige proses voel, en dit ís. Maar jy pas dalk beter daarby aan as jy nie jou hele lewe hoef te verander nie.

Begin deur één gesonde leefstyldoelwit te identifiseer en werk elke dag daaraan. Hou vir eers die res van jou lewe en gewoontes dieselfde.

Jy sal verbaas wees as jy sien ’n klein verandering kan regtig ’n groot verskil maak.

Voeg later nog doelwitte by. Begin dus deur klein treetjies te gee vir groot voordele!

Welslae

Lees gerus die inspirerende verhale van Pumeza Solani en Ncumisa Kweyiya se Gesonde Leefstyl-transformasie.

Hulle het hulle lewe met welslae verander deur klein leefstylveranderings te maak! Jy kan ook nog inligting en wenke kry oor hoe jy gesonde keuses kan maak deur WoW! te volg of te kontak by:

•E-pos: wow@westerncape.­gov.za

•Web: www.westerncape.­gov.za/wow

•Facebook: WoW! Western­Cape on Wellness

•SMS: SMS “WoW! na 35395

•WhatsApp: 066 390 6646 Stuur Join WoW! met jou naam en van na dié nommer. Jy sal Maandae, Woensdae en Vrydae ’n boodskap ontvang wat jou sal motiveer om gesond te leef.

Die WoW!-program beloon elke jaar sy Welstand-kampioene in die Wes-Kaap vir hoe hulle ’n gesonde leefstyl in die gemeenskap bevorder.

Verlede jaar was die Zama-Zama Community Group van Khayelitsha die topspan in die metro en Jolly Gymmers Community Group van Rivers­dal was op die platteland top.

Hulle en 144 ander Welstandveldtog-wenners het hulle toekennings op 20 Februarie op ’n prettige geleentheid in Kaapstad ontvang. Die geleentheid is deur 300 gaste bygewoon.

Jy kan ook ’n wenner wees: Gee die eerste tree na ’n gesonde leefstyl. Wees gesond! Wees gelukkig! Wees jouself! Wees WoW!

Inspirerende Gesonde Leefstyl-transformasies

Pumeza Solani is ’n WoW! Welstand-kampioen.

In 2016 is Pumeza dokter toe oor sy erg gesweet het terwyl sy slaap. Sy het haar byna doodgeskrik toe sy op die skaal klim en die naald by 122 kg vassteek.

Op 23 November 2016 het sy besluit iets moet ver­ander. Sy het anders begin eet en begin oefen.

Ná drie jaar lyk Pumeza ongelooflik. Dit was nie ’n maklike pad nie, maar sy het vasgebyt.

Baie geluk, Pumeza, met jou verstommende gesondheidsreis en transformasie. Jy is ’n WoW!-inspirasie!

Lusteloos

Die WoW!-deelnemer Ncumisa Kweyiya werk daaraan om ’n WoW!-kampioen te word.

Haar verhaal begin ná haar dogter se geboorte. Terwyl sy swanger was, het sy 30 kg aangesit. Ná die geboorte het sy omtrent 100 kg geweeg. Al het sy geborsvoed, het sy gesukkel om die gewig te verloor.

Ncumisa was lusteloos, haar klere het nie meer gepas nie en sy het ál minder soos haarself gevoel.

Eendag het sy ’n foto van haarself gesien en niks daarvan gehou nie. Dit het haar aangespoor om haar leefstyl te verander.

Opgegee

Ncumisa het gereeld by WoW! se 10 minute lange body sculpt­ing-sessies ingeskakel. Sy het ook gesonder begin eet.

Sy het haar dag met suurlemoenwater begin en koffie, suiker, kitskos en haar groot swakheid, brood, uitgesny.

Sy het meer vrugte en groente geëet en rooibostee en meer water gedrink.

Hoewel dit ’n lang pad was en dit soms maar op en af gegaan het, het Ncumisa nooit moed opgegee nie.

Sy is nou meer as ooit tevore gemotiveerd om hierdie leefstyl vol te hou.

Ncumisa het al 14 kg verloor en is op haar pad na haar doelgewig.

Sy kan ’n verskil in haar energievlakke voel en het ’n positiewe uitkyk op die lewe.

Baie geluk, Ncumisa, met jou ongelooflike transformasie! Jy is ’n WoW!-inspirasie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters